Wysigings aan wet gaan teen wittes tel
2012-02-08 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
PRETORIA. – As die voorgestelde wysigings aan die Wet op Breë-basis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB-wet) aanvaar word, sal dit op “gruwelike ongrondwetlike diskriminasie” neerkom.
Dié wysigings sal wit gestremdes heeltemal uitsluit van die Wet op Gelyke Indiensneming se definisie van aangewese groepe.
Die vakbond Solidariteit het gister teen die wysigings uitgevaar en gesê dit is ondenkbaar hoe daar teen gestremdes op grond van hul ras gediskrimineer kan word. Diskriminasie teen gestremdes ken geen kleur nie, het dr. Dirk Hermann, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.
Kommentaar op die voorgestelde wysigings het gister gesluit. Solidariteit het in sy voorlegging gevra dat wittes met gestremdhede ingesluit moet word in alle vorme van bemagtiging wat ten doel het om onbillike diskriminasie te pak.
Wit gestremdes is tans deel van die definisie van die aangewese groep in die Wet op Gelyke Indiensneming wat regstellende aksie reguleer, maar is nie meer deel van die definisie van die aangewese groep in die BBSEB-wet nie.
Ingevolge die nuwe wysigings dra die BBSEB-wet meer gewig en sal dít geld as daar spanning tussen die wette se definisies van die aangewese groep ontstaan.
In praktyk beteken dit dat as ’n maatskappy ’n werklose wit gestremde aanstel, sal die maatskappy nie punte vir sy swartbemagtigingstelkaart kry nie. As hy ’n nie-gestremde welvarende swart persoon in diens neem, sal dit ingevolge die BBSEB-wet punte vir die aanstelling verdien.
As die wit gestremde die maatskappy ingevolge die Wet op Gelyke Indiensneming hof toe sleep, sal die BBSEB-wet se definisie van die aangewese groepe geld.
“Die paradoks is nou dat wittes met gestremdhede uit die definisie van aangewese groepe gehaal word op grond van hul ras en nie gestremdheid nie,” het Hermann gesê.
Hy het bygevoeg dié uitsluiting maak van Suid-Afrika se bemagtigingsproses ’n suiwer rasseproses en nie ’n bona fide teendiskriminasieproses nie.
Verskeie gestremdes wat die mediakonferensie bygewoon het, het hul misnoeë met die wysigings uitgespreek en gesê dit is vir hulle ’n verdere struikelblok.
Mnr. Daan van Niekerk van die organisasie Blind SA het as ’n voorbeeld van diskriminasie verwys na maatskappye wat byvoorbeeld van blindes verwag om ’n aansoekvorm in hul eie handskrif te voltooi.
- Die Burger