Waterhulp vir Mosselbaai op pad
2010-08-15 23:46
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
George
Verligting vir die droogtegeteisterde Mosselbaai is op pad nadat besluit is om water van die Hartebeeskuildam naby Hartenbos te gebruik.
Water in dié dam is tot dusver hoofsaaklik vir nie-huishoudelike doeleindes gebruik omdat dit effens brak is.
’n Besluit om die water tog te gebruik is laat verlede week op ’n vergadering van verteenwoordigers van Eden-rampbestuur, PetroSA, die Mosselbaaise munisipaliteit en die departement van waterwese geneem.
Die verwikkeling vind plaas teen die agtergrond van nuwe kommer oor die impak van die droogte op die landbou in die streek, veral in die dele wes van Mosselbaai. Dit sluit plekke soos Albertinia en Riversdal in.
Die Wes-Kaapse departement van landbou het juis vir ’n verdere R50 miljoen droogtehulp van die nasionale tesourie gevra en wag nou op ’n antwoord.
Mnr. Gerhard Otto, hoof van Eden-rampbestuur, het aan Die Burger gesê noodmaatreëls word gevestig soos die bou van ’n nuwe ontsoutingsaanleg en die suiwering van rioolwater. Die ontsoutingsaanleg sal egter eers in Januarie aanstaande jaar in volle bedryf wees.
As die huidige weerpatrone voortduur, sal Mosselbaai water tot November hê. Die uitdaging is om die tydperk van nou tot Januarie te oorbrug. Dit is in hierdie verband dat die Hartebeeskuildam se water gebruik gaan word. Die dam het sowat 27?000 megaliter water. Dit het hoofsaaklik onbenut gelê weens die hoë soutinhoud.
Die plan is om die water in die Hartenbosrivier te laat vloei. Stutwalle sal by die uitloop van die dam in die rivier gebou word. Die detail daarvan word nou uitgewerk.
Daar word steeds gekyk na die vervoer van water met treintenkwaens van George na Mosselbaai, maar eerste beramings is dat dit tans nie ekonomies haalbaar is nie. Dit sal sowat R29 miljoen kos.
Otto het gesê waterbeperkings in die streek bly van krag. Oor die impak van die droogte op die landbou het hy gesê daar heers kommer. Die probleem is veral met weiding in die Hessequa-gebied.
Mnr. André Roux, direkteur: volhoubare hulpbronnebestuur van die Wes-Kaapse departement van landbou, het gesê landboutoestande aan die kusgebiede vanGeorge en Knysna het ’n bietjie verbeter. Die beskikbaarheid van water bly egter ’n groot probleem.
Die onlangse reën het ’n beperkte invloed op damme aan die westekant van Mosselbaai en die Klein Karoo gehad.
Die grootste gedeelte van die R26,9 miljoen wat van die nasionale tesourie vir droogtehulp ontvang is, is reeds bestee.
- Die Burger