Vuvuzela laat Europa kwêla
2010-06-18 23:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Leopold Scholtz
Den Haag - Suid-Afrika se bekendste produk is klaarblyklik nie meer oudpres. Nelson Mandela of apartheid nie. Dit is die vuvuzela.
In Europa het die vuvuzela mense aan die praat. Tienduisende haat dit met ’n passie, maar terselfdertyd is anderhalf miljoen vuvuzelas luidens berigte reeds op die vasteland verkoop. In Duitsland het ’n onderneming die alleenreg op die verspreiding van die plastiekhoring vir die 27 lidlande van die Europese Unie verkry en vyf miljoen laat vervaardig.
In talle woonbuurte in Frankryk, Duitsland, Nederland en België kan die gebulk van die “toeters”, soos baie hulle hier noem, gehoor word, veral wanneer spanne punte aanteken.
Die nuutste gier is ’n vuvuzela-luitoon, en in Maastricht, Nederland, wil die organiseerders van ’n toneestuk gratis vuvuzelas uitdeel in die hoop om ’n groter gehoor te lok.
In die Franse nuustydskrif Le Point skryf François-Guillaume Lorrain spottenderwys die woord vuvuzela was ’n week gelede nog onbekend; nou tas dit die gehoor van die hele planeet aan.
Talle koerante berig dat die vuvuzela se geluid van 135 desibels nog harder is as dié van ’n straalvliegtuig (125 desibels), en mense se gehoor dus ernstig kan aantas.
Blykbaar is dit slegs in Brittanje waar vuvuzelas nie veel gehoor kan word nie. Die eerbiedwaardige Wimbledon, waar die wêreld se voorste tennistoernooi binnekort begin, het die vuvuzela verbied. “Ons raad aan besoekers: Laat that thing tuis.”
En die Londense burgemeester, mnr. Boris Johnson, het hom voorgeneem om geen enkele vuvuzela by die Londense Olimpiese Spele oor twee jaar toe te laat nie.
The Times, die waardige ouma van Britse koerante, het ’n foto van ’n vrolike vrou met ’n hoed vol vuvuzelas op sy voorblad geplaas.
’n Britse radioverslaggewer het die publiek se reaksie getoets deur ’n vuvuzela op verskeie plekke in die openbaar te blaas. Die reaksie, sê hy, was oorwegend negatief.
Die Britte – stywe bolip stewig getuit – hou nie van sulke “ongemanierdhede” nie.