Vermoorde gegroet
2012-02-25 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Familie en vriende het gisteraand in die Groenpuntpark afskeid geneem van die vermoorde eienaar van die nagklub Bronx, mnr. Bruno Brönn.
Sowat 100 van Brönn se vriende, familie en kollegas het die gedenkdiens in die park se amfiteater bygewoon.
Brönn is meer as twee weke gelede dood in sy huis aangetref. Sy huiswerker het hom op die vloer met sy hande vasgebind gekry. Hy is verwurg en sy liggaam is vermoedelik met ’n hamer vermink. Vier mans het intussen op aanklagte van moord in die Kaapstadse landdroshof verskyn.
Brönn se ouers, mnr. Willie en mev. Anita Brönn, sy broer Reinier, dié se vrou, Liesl, en hul kinders – Anke (10), Emile (8) en Christoph (2) – het Donderdag uit Bloemfontein in Kaapstad vir die gedenkdiens aangekom.
Reinier Brönn het gister snikkend vertel hoe lief sy broer vir sy familie en vriende was. “Ek wil een en elk bedank vir wat julle vir Bruno beteken het. Vir sy kollegas by Bronx, dankie vir wat julle vir my broer gedoen het.”
Hy het ook vir mnr. Jono Isaacs, Brönn se lewensmaat wat sowat drie jaar gelede oorlede is, bedank vir wat hy vir sy broer beteken het.
“My broer was nooit dieselfde na sy geliefde Jono se dood nie. Ek weet egter dat hulle nou weer saam is en afkyk na ons toe, met glimlagte op hul gesigte,” het hy gesê.
’n Huldeblyk is ook deur mnr. Phillip King, voormalige eienaar van Bronx en Brönn se buurman, gelewer.
Vriende van Brönn het gesê hy sal veral by volgende week se 11de Gay Pride-fees wat in Groenpunt gehou gaan word, gemis word. ’n Kers ter nagedagtenis aan Brönn is ná die gedenkdiens aangesteek.
- Die Burger