‘Vat skobbejakke vas’
2012-02-25 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Die nasionale tugkomitee (NTK) van die ANC móét jeugdiges se ontwrigting van pres. Jacob Zuma se eeufeeslesing onmiddellik ondersoek.
Só het me. Angie Motshekga, leier van die ANC-vroueliga, gister gesê.
“Die swak dissipline het te ver gegaan. Dit moet nou end kry, anders spoeg ons op die grafte van diegene wat onselfsugtige opofferings gemaak het sodat ons vandag by dié punt kan kom.”
Motshekga het gesê die groep oproeriges behoort hulle te skaam.
Dié kritiek kom nadat sowat 300 lede van die ANC-jeugliga wraak geneem het op Zuma deur hom Donderdagaand by ’n gedenklesing in die Goeie Hoop-sentrum uit te jou en dood te skree.
Vuisgevegte het uitgebreek, stoele is rondgegooi en bloed het gevloei.
Selfs nie eens die ingryping van verskeie ministers kon die saak beredder nie.
Twee mense is later in hegtenis geneem.
Motshekga het gesê “Die nasionale uitvoerende komitee van die vroueliga gaan die NTK nader en eis dat klagte onmiddellik teen die oortreders ingestel word, en dat die swaarste moontlike strawwe opgelê word.”
Ook mnr. Marius Fransman, Wes-Kaapse leier van die ANC, het die voorval veroordeel. “Dié soort gedrag is onaanvaarbaar en sal nie in die ANC geduld word nie.”
Dr. Mathole Motshekga, hoofsweep van die ANC in die parlement, het die beoogde tugstappe teen die “skobbejakke” verwelkom.
Die vroueliga, Fransman en Motshekga het hul skok uitgespreek dat ’n SAUK-kameraman, mnr. Rudi le Roux, deur die groep oproeriges aangerand is.
Intussen het die jeugliga die blaam vir die ontwrigting na “ANC-lede in die Wes-Kaap” verskuif.
“Die jeugliga ontken die bewerings dat van sy lede die ontwrigting veroorsaak het, soos deur sommige media-instellings voorgehou word,” het mnr. Floyd Shivambu, woordvoerder van die jeugliga, gesê.
“Dié standpunt is verkeerd en word versprei deur teenstanders wat eenheid in die ANC teenstaan.”
Shivambu het gesê alle leiers van die ANC moet te alle tye met eerbied behandel word, veral wanneer daar hulde aan die helde en ikone van die bevrydingstryd gebring word.
Kol. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê die twee mense wat in hegtenis geneem is, sal Maandag op aanklagte van opstokery en oproerige gedrag in die hof verskyn.
- Die Burger