Vakbonde sê ná die naweek oor staking
2010-09-03 22:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Pretoria – Staatsdiensvakbonde sal die naweek besluit of die staking verby is of verder gaan uitkring.
Die regering het gister gesê hy hou duim vas dat die ongeveer 1,3 miljoen amptenare wat dié besluit moet neem, te vinde gaan wees vir sy jongste aanbod.
Die aanduiding was egter gister dat die 7,5%-salarisverhoging en R800-huissubsidie steeds nie ontevrede werknemers se goedkeuring wegdra nie.
Cosatu sal na verwagting voortgaan met sy planne om dienslewering met ’n sekondêre staking tot stilstand te bring indien die aanbod van die hand gewys word.
Cosatu se meer as 20 geaffilieerde vakbonde het by die twee miljoen lede.
Mnr. Chris Klopper, voorsitter van die Onafhanklike Arbeidskoukus (ILC), het gesê hulle het nog nie ’n duidelike mandaat nie.
“Ons sal die naweek ’n beroep op ons unies (in die koukus) doen om die aanbod deeglik te oorweeg en nie ’n emosionele besluit te neem nie.”
Klopper het gesê die aanbod word “voorlopig verwerp”.
“Afgesien van die aanbod is daar ’n hele paar kwessies wat in aanmerking geneem moet word.”
Cosatu het in die week aangedui die aanbod word nie aanvaar nie, maar terselfdertyd gesê sy lede het meer tyd nodig om ’n finale besluit te neem.
Mnr. Patrick Craven, Cosatu-woordvoerder, het gister gesê ’n aankondiging sal waarskynlik Maandag gedoen word.
“Om drie weke lank te staak, vat baie – emosioneel én finansieel,” het mnr. Koos Kruger, provinsiale bestuurder van die staatsdiensvakbond (PSA), aan Aldi Schoeman gesê.
Die PSA het in die week reeds begin om lede oor die aanbod in te lig. Hy hoop om op die laatste teen Dinsdag ’n mandaat van lede te kry om die aanbod te aanvaar of nie. “As ons sê nee, moet ons verder staak. Ons soek nie net ’n emosionele ja of nee nie. Ons soek ’n realistiese ja of nee.”
Benewens die salarisverhoging van 7,5% en huissubsidie van R800 het die staat ook onderneem om kwessies soos “ongelyke” siekefonds-subsidies te heroorweeg, het Kruger gesê.
Mnr. Dumisani Nkwamba, ’n woordvoerder in die departement van die staatsdiens en administrasie, het gesê die regering sal “wag en sien wat gebeur”.
- Die Burger