Moord op klubbaas
2012-02-08 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Skokgolwe is gister deur die gay-gemeenskap gestuur met die nuus van die moord op ’n bekende nagklub-eienaar in Groenpunt.
Mnr. Bruno Bronn is vroeg gisteroggend dood in sy huis in Ocean View-rylaan aangetref.
Die Burger het betroubaar verneem dat Bronn (50) herhaaldelik geslaan en vermoedelik verwurg is. Volgens ’n bron is sy liggaam amper onherkenbaar vermink.
’n Hamer, vermoedelik die moordwapen, is saam met ’n paar ander artikels deur forensiese beamptes as bewyse geneem.
Bronn het gay-vriendelike nagklubs in die Groenpunt-omgewing besit. Die bekendstes is Bronx en Navigaytion, wat hy in 2008 begin het. Albei is in dieselfde gehou en het bykans drie weke gelede toegemaak.
Bronn se lyk is voor 09:00 deur sy huishulp gevind. Sy maak die huis een keer per week skoon.
Die sydeur van sy motorhuis was blykbaar op ’n skrefie oop toe sy daar aangekom het. Die veiligheidshek was nie gesluit nie.
Van sy bure, wat verkies om anoniem te bly, het gesê hy en twee mans het Maandagaand by die huis opgedaag. Kort daarna het ’n stryery blykbaar uitgebreek. Volgens die bure was dit redelik hard en steurend. Dit het ná ’n rukkie weer stil geraak.
Dit is nie seker teen watter tyd die twee mans daar weg is nie. Die polisie kon nie bevestig of die mans wel daar was nie.
Bronn se BMW, selfoon en ’n skootrekenaar word vermis.
Volgens mnr. Michael Xaso, ’n bestuurder van een van Bronn se nagklubs, is hy gisteroggend per SMS van Bronn se dood laat weet. Xaso het 15 jaar lank vir Bronn gewerk.
“Ek het eers gedink dis ’n grap. Maar toe ek by sy huis kom, het die realiteit my getref. Ek wens ek kan die mense wat dit gedoen het, in die hande kry sodat hulle my net antwoorde kan gee,” het ’n bedroefde Xaso gesê.
Volgens Xaso het Bronn alleen in die huis gewoon.
Volgens mnr. Phillip King, ’n buurman en vorige eienaar van Bronx, was Bronn ’n baie bekende gesig in die gay-gemeenskap.
“Hy het baie vir gay-regte gedoen en baie mense het van hom gehou. Hy het elke jaar ’n bydrae tot die Gay Pride-fees gemaak.”
King het vroeg gisteroggend van Bronn se dood verneem.
Bronn en mnr. Jono Isaacs, sy lewensmaat, het sowat 12 jaar gelede in die huis in Groenpunt ingetrek. Isaacs is drie jaar gelede oorlede.
Volgens King het Bronn die laaste maande maar baie min gesig gewys.
Benewens die nagklubs in Groenpunt het Bronn ook ’n naweekhuis op Paternoster besit en nog ’n gebou in Groenpunt, wat hy verhuur het.
Volgens ao. November Filander, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, word ’n moordklag ondersoek.
Bronn se familie van Bloemfontein sal moontlik vandag in die Kaap aankom.
- Die Burger