VIDEO: Karateka op 72 nog lank nie klaar afgerig
2012-02-09 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Op 72 is sensei Nellie Kleinsmidt van Elsiesrivier nog ver van klaar met karate-afrigting.
In haar professionele loopbaan as afrigter het sy jare gelede – as lid van Suid-Afrika se Nasionale Olimpiese Komitee – die geleentheid gekry om die boksheld Muhammad Ali te ontmoet.
“My pa was ’n bokser en ek die oudste van vier susters. Ek wou inpas by my pa en broer, ’n gewigopteller. Ek was ’n soort van tomboy toe ek jonger was.”
Haar belangstelling en loopbaan in karate het in 1965 begin toe sy in Loopstraat op ’n karateklub afgekom het.
Maar die destydse apartheidsbeleid het haar pad bemoeilik.
“Ons is in 1966 gedwing om die klub te verlaat en moes in Buitenkantstraat gaan oefen, want die regering se groepsgebiedewet is toe ingestel.
“Later moes ons ook daar padgee,” het dié voormalige onderwyseres vertel.
Net ’n klein groepie het daarna nog aanhou oefen.
Jare later het Kleinsmidt – die eerste swart vroulike karate-skeidsregter in Suid-Afrika – haar man, mnr. Johan Roux, by ’n karateklas in Elsiesrivier ontmoet.
Sy en Roux het in 1982 die Karate Zen-klub gestig.
In 2011 het Kleinsmidt dié klub verlaat en by die Karate Kyousei-klub aangesluit. Vandag rig sy steeds 65 studente by ’n Katolieke kerk in Parow af.
“Ek het verlede jaar vier vyfjariges gehad wat hul Westelike Provinsie-kleure in die sport behaal het – hulle is té oulik.”
Roux het gesê hy weet nie waar sy vrou die energie vandaan kry nie. “Buiten karate, is sy ook betrokke by die kerk. Sy speel orrel, is betrokke by blommerangskikking, help met begrafnisse en reël troues.”
Kleinsmidt het Suid-Afrika ongelukkig nooit in die apartheidsjare verteenwoordig nie, maar haar man is seker sy sou dit vermag het as dit enigsins moontlik was.
“My eerste swart gordel was een van my hoogtepunte, want daarna dink jy jy weet alles van karate af. Maar jy kom gou agter jy weet eintlik niks nie,” het Kleinsmidt geskerts. Sy is in 2008 as een van die Wes-Kaap se sportlegendes benoem.
- Die Burger