VIDEO: Brandweer soek nuwe bloed
2012-02-03 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Honderde hoopvolle voornemende leerling-brandweermanne het vandeesweek strawwe proewe gedoen om hul staal te wys.
Dié proewe word reeds sedert Maandag by die ou Maitland-abattoir deur Kaapstad se brand-en-reddingsdienste aangebied.
Mnr. Theo Layne, woordvoerder van dié dienste, het gesê die kandidate moet fisiek fiks wees en geen ernstige mediese toestande hê nie.
Volgens hom sal die aantal nuwe aanstellings afhang van die getal plekke wat beskikbaar is.
Dié wat vir poste in aanmerking wil kom, moet 2,4km aflê – mans moet dit in 11 minute of minder kan doen en vroue in 12 minute. Daarna moet hulle 30 opstote in 60 sekondes doen, ’n gewig van 25kg 15 keer opstoot en dan met twee 25F-kanne vol water (een in elke hand) oor ’n afstand van 100m hardloop.
Mnr. André Petersen (28) van Heideveld wat na die volgende ronde van toetse deurgedring het, het aan Die Burger gesê hy het reeds sedert 06:00 by die hekke gewag.
“Dit was nog altyd my droom om ’n brandweerman te word. Ek het net my beste gegee en dit het vrugte afgewerp,” het hy gesê.
Petersen, wat self ’n brandslagoffer is, wil nou ook ander help.
Mnr. Anwar Samuels (19) van die Strand kon nie die wedloop voltooi nie.
Die Burger het verlede jaar oor hom berig toe hy ’n slagoffer van ’n mesaanval in die Somerset Mall-winkelsentrum was. Hy het in November 2011 ’n hartoperasie ondergaan.
“My toestand het my nie afgeskrik nie. Ek sal elke jaar probeer tot ek ’n brandweerman word,” het hy gister uitasem gesê.
Vandag is dit die laaste kans om aansoek te doen vir diegene wie se vanne met die letters T tot Z begin.
Diegene wat aan die vereistes voldoen, sal ’n wiskunde- en ’n begripstoets moet doen. Daarna volg toetse vir hoogte-en engtevrees.
Indien hulle die twee toetse slaag, sal hulle vir ’n onderhoud gaan en ’n mediese ondersoek sal volg.
- Die Burger