Trane vloei toe pedofiel oplaas gevonnis word
2012-02-25 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
STELLENBOSCH. – Die trane het gister in die Paarl-streekhof geloop toe die selferkende Seepuntse pedofiel Ian Appleton (72) tot vyf jaar korrektiewe toesig gevonnis is.
Hy sal ná tien maande in die tronk kan aansoek doen om die res van sy vonnis in huisarres uit te dien.
Appleton, ’n afgetrede onderwyser en rekenmeester, het op 11 Oktober 2010 erken hy het ’n sewejarige seun (nou 11) in 2007 en 2008 herhaaldelik op sy ouers se plaas by Stellenbosch verkrag.
Appleton was jare lank vriende met die seun se ouers.
“My seun kan nou uiteindelik ontspan en met sy lewe aangaan,” het die slagoffer se ma agterna buite die hof gesê terwyl die trane oor haar wange gestroom het.
“Geregtigheid het geskied en ek is vandag trots om ’n Suid-Afrikaner te wees.”
’n Groep vriende en familielede het luid hande geklap en gejuig toe streeklanddros Norma Smile die vonnis uitgelees het.
Sy het Appleton reeds in April verlede jaar tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, maar sy prokureur, mnr. John Riley, het in die Wes-Kaapse hooggeregshof teen dié vonnis geappelleer.
Regter Vincent Saldanha het toe bevind Smile het gefouteer deur nie onder die omstandighede korrektiewe toesig as straf te oorweeg nie.
Appleton het gister in die hof die seun se ouers om verskoning vir sy dade gevra en ’n lang, gelukkige en suksesvolle lewe toegewens.
Hy het onderneem om minstens vir die volgende agt jaar ’n rehabilitasieprogram te volg asook om vir die slagoffer se sielkundige terapie te betaal. Die ouers het hiertoe ingestem.
“Ons glo nie hy het werklik berou oor sy dade soos wat hy voorgee nie,” het mnr. Alan Craik, ’n voormalige vriend van Appleton wat die verrigtinge bygewoon het, gesê.
“Dit lyk eerder of hy homself jammer kry noudat hy uiteindelik die straf gekry het wat hy verdien.”
- Die Burger