Teleskoop hou dubbelster dop
2012-02-08 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Suid-Afrika se voorloper-radioteleskoop, KAT-7, het weer suksesvol na die ruimte gekyk.
KAT-7 is die prototipe-teleskoop vir MeerKAT wat in die Karoo in die Noord-Kaap gebou word.
Dit volg nadat KAT-7 verlede jaar die eerste beelde geskep het, met al sewe skottels in werking.
Volgens die span, onder leiding van mnre. Jasper Horrell en Simon Ratcliffe, het hulle sedert Kersfees vir dae aaneen na die dubbelsterstelsel Circinus X-1 gekyk. Al sewe skottels het in die proses as ’n eenheid gefunksioneer.
Die span kan die skottels met ’n druk van ’n knoppie in Kaapstad op die terrein in die Noord-Kaap beheer.
Die dubbelster is sowat 30000 ligjaar weg van die aarde en bestaan uit ’n neutronster en nog ’n onbekende tipe ster.
’n Neutronster is besonder dig en die oorskot van ’n ster wat ontplof het.
In Circinus X-1 wentel die twee sterre elke 16 dae om mekaar en hulle beweeg ook nader aan mekaar. Weens die sterk swaartekrag wat die neutronster op die ander een het, suig hy materiaal van die ander ster in.
Wetenskaplikes glo die materiaal wat die een ster na hom toe trek, lei tot die “flikkerligte” in uitstraling wat in die radioseine gesien kan word. Dit gebeur oor ’n wye reeks golflengtes.
KAT-7 is gebruik om die helderheid van die sterre te meet, asook om beelde te vorm op 1822 MHz. Dit is deel van ’n navorsingsprojek genaamd ThunderKAT.
- Die Burger