Taalplan is 'teen die Grondwet'
2012-02-03 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Die kwik het gister skerp gestyg in die nuwe taaldebat, met Afrikaanse taalorganisasies en -aktiviste wat die regering met die hof gedreig het oor sy Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale.
Boonop blyk dit dat ’n klousule waarin die gebruik van Afrikaans as amptelike gebruikstaal deur staatsdepartemente uitgeskryf kan word, ongrondwetlik kan wees.
Ingevolge die jongste weergawe van die wetsontwerp moet nasionale staatsdepartemente minstens drie tale gebruik om sake te doen of dienste aan die publiek te lewer. Twee hiervan moet inheemse tale wees wat nie voorheen in status of gebruik bevoordeel is nie. Engels en Afrikaans tel onder die tale wat voorheen bevoordeel is.
Prof. Marinus Wiechers, grondwetkenner en oudrektor van Unisa, het gister gesê art.6 van die Grondwet maak glad nie melding van tale met histories verminderde gebruik en status wat voorkeur bo ander tale moet geniet nie.
Wiechers het gesê dié klousule in die wetsontwerp is duidelik strydig met die Grondwet, want Afrikaans kan nie net uitgerangeer word nie.
Die Burger is bewus van gesprekke agter die skerms wat sedert gister tussen prominente Afrikaanssprekendes en regeringslui aangelê is.
Die burgerlike organisasie AfriForum het die regering gemaan om sy “kwaadwillige houding” jeens Afrikaans te staak.
“As die staat wetgewing, regulasies en intimidasie gebruik om gehalte-dienslewering en -onderwys aan mense in hul eie taal te weerhou, moet diegene wat dit implementeer hulle gereed maak om AfriForum in die hof te ontmoet,” het me. Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof, gesê.
Dr. Michael le Cordeur, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, het gesê die wetsontwerp tas mense se regte aan en sal beslis nie die toets vir grondwetlikheid slaag nie.
Mnr. Cerneels Lourens, prokureur en taalregte-aktivis, het gesê hy gaan die regering weer hof toe vat oor ’n “vrot” wet. Lourens het die regering in 2010 met ’n hofbevel gedwing om ’n wetsontwerp te skep om veeltaligheid, veral met betrekking tot die staat se dienste aan die publiek, te bevorder.
Hy het gesê art. 6(4) van die Grondwet lui dat alle amptelike tale gelyke aansien moet geniet en billik behandel moet word. “Ek is verheug dat hulle inheemse tale wil bevorder, want dit is waaroor my stryd gaan, maar nie ten koste van enige ander taal nie.”
Personeel verbonde aan die kantoor van mnr. Paul Mashatile, minister van kuns en kultuur, was nie gister in staat om op die nuwe storm te reageer nie, maar het onderneem om dit vandag te doen.
- Die Burger