T-opsie ‘waarborg nie 50% Afrikaans
2011-12-09 23:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
STELLENBOSCH. – ’n Weerspreking van die Universiteit Stellenbosch (US) se aannames oor die T-opsie van die taalbeleid het blykbaar stil-stil deur die senaat geglip en is ook as standpuntdokument aanvaar.
Die inhandiger van die dokument is glo ’n lektor wat anoniem wil bly en wat eintlik téén die US as Afrikaanse universiteit gekant is.
Dié standpunt word onder meer soos volg bewoord: “Die T-opsie is nie ’n waarborg vir 50% Afrikaanse aanbod in my klasse nie; die taalstryders is korrek wat dit betref. My Engelssprekende kollegas kan ook nie 50% Afrikaanse lesings aanbied nie, al wil hulle ook.”
Mnr. Piet le Roux, ’n oudstudenteraadslid wat vroeër as lid van die Adam Tas-studentevereniging hom vir die behoud van Afrikaans aan die US beywer het, het gesê: “Hierdie druis natuurlik in teen die verontwaardiging vanuit US-bestuurskant, al die jare en tot vandag toe nog, dat dit hoegenaamd denkbaar sou wees dat die T-opsie nie minstens 50% Afrikaans beteken nie.
“Dit (die standpuntdokument) gee alles gelyk wat (prof. Hermann) Giliomee, (prof. Pieter) Kapp, Adam Tas, Tygerbergers vir die Behoud van Afrikaans en onlangs Jacques du Preez en Ernst Marais wat die konvokasiemosie vroeër in November gestel het, al oor die T-opsie gesê het.”
Le Roux het beklemtoon: “Dit trek maar net nog ’n streep – en dié keer ’n dik, vet rooie – deur al die versekerings dat die T-opsie kan werk, wél reg gemoniteer word, ’n uitsondering sal bly en dat Afrikaans die hoofonderrigtaal sal bly.”
’n Senaatslid wat nie as amptelike bron genoem wil word nie, het bevestig dat die dokument in die senaat aanvaar is.
Daarin erken die universiteit, volgens die bron, dat hy nie die T-opsie reg toepas nie. Dit is egter net as ’n standpunt gestel en die senaat het ná ’n stemming daarvan kennis geneem.
Nog ’n persoon wat ook deel van die US-universiteitsraad is, meen dit is kommerwekkend. “Hier het ons bevestiging dat die T-opsie nie werk nie. Dit beteken dat die debat, wat nou al oor jare strek, geregverdig was, want hier sê ’n dosent nou sélf die mense voer dié opsie nie reg uit nie.”
Prof. Russel Botman, rektor, het in reaksie gesê: “Die standpunt van die senaat verwoord die haalbaarheid al dan nie van ’n 50-50-taalhandhawing tussen Afrikaans en Engels in elke klas waar die T-opsie van toepassing is.”
Verder het hy gesê: “Wees ook bedag daarop dat hierdie standpunt in die senaat ter sprake gekom het voordat die gebruik van opvoedkundige tolking deur die US-raad op sy laaste vergadering aanvaar is.
“Dit behoort die sogenaamde wanverhouding tussen Afrikaans en Engels in klasse grootliks uit te skakel.”
- Die Burger