Spogvoertuig beland in see
2012-02-08 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
STELLENBOSCH. – Besoekers aan Harbour Island in Gordonsbaai kon Sondagmiddag hul oë nie glo nie toe ’n voertuig met boot en al aan die haak in die see beland het.
“Ek het die voertuig tussen die boothengelklub en die Ocean Basket-restaurant parkeer en gou ingehardloop om iets te betaal. Toe ek uitkom, het ek gesien dit is besig om teen die skuinste af te gly,” het die eienaar van die Toyota Prado, wat nie sy naam bekend wou maak nie, laggend gesê.
“Ek het nogal in die voertuig gespring en die rem getrap, maar dit was tevergeefs.”
Hy het ondanks omstanders se gespot volgehou die voertuig se handrem was opgetrek en dat die voertuig in eerste rat was.
Ooggetuies het vertel hoe die Prado se wiele onder die betonblad van die skeepshelling vasgehaak het en ’n paar manne toe maar in die water moes spring om dit los te kry.
’n Insleepdiens het die voertuig hierna uit die water gesleep, maar nie voordat die petalje eers ’n skare toeskouers gelok het nie.
“Die voertuig is natuurlik afgeskryf en dis nou maar een van daardie dinge. Daar was gelukkig niemand binne-in nie en niemand het seergekry nie,” het die eienaar gesê.
- Die Burger