Sewe sterf oor staking
2010-08-20 00:12
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Johannesburg en Port Elizabeth
Minstens sewe pasiënte, onder wie drie babas, is in Gauteng en Mpumalanga in staatshospitale dood sedert honderde stakende hospitaalwerkers eergister begin het om dienslewering landwyd te verlam.
Die nasionale staatsdiensstaking het gister aansienlik verskerp en die aanduidings is dat dit verder sal uitbrei en lank sal duur.
Pres. Jacob Zuma het gewaarsku dat stakers die gevaar loop om hul werk te verloor.
Hy het ook gesê dit is onaanvaarbaar dat ingemeng word by amptenare wat wel wil werk.
Twee van die babas is dood in die Natalspruit-hospitaal aan die Oos-Rand nadat hulle ’n hele dag lank nie gevoed is nie.
’n Derde baba is in die dr. J.S. Moroka-kliniek in Mpumalanga doodgebore, glo omdat die ma nie betyds hulp kon kry nie.
By die Tambo Memorial-hospitaal in Boksburg het stakers ’n verpleegster in die middel van ’n operasie uit die teater gesleep, wat dr. Zoltan Risko net met ’n narkotiseur gelaat het.
In die Oos-Kaap het gesondheidsowerhede vinnig gespring om ontwrigting die hals te bied.
Mnr. Siyanda Manana, direkteur van kommunikasie van die Oos-Kaapse departement van gesondheid, het gesê die polisie het stakers van die perseel by die Dora Nginza-hospitaal verwyder.
“Die polisie is ontbied nadat voorvalle van intimidasie gister plaasgevind het. Die stakers het hierna na Livingstone-hospitaal beweeg, waar die polisie hulle ingewag het,” het Manana gesê.
“Ons het ons waakeenheid na die Provinsiale- en ongevalle na die Livingstone-hospitaal geskuif. Ons werk met ’n skadupersoneelkorps en vra pasiënte om geduldig te wees,” het Manana gesê.
Mev. Kholiswa Tota, provinsiale sekretaris van Denosa, het nie voorvalle van intimidasie ontken nie. “Voorvalle soos dié sal maar plaasvind. Daar was sover ek weet slegs mondelinge (dreigemente) en geen van ons lede in die provinsie het gewelddadig geraak nie.”
Elders in die land moes die polisie bontstaan om oproerige stakers te beheer en die weermag het nood- mediese personeel na nóg drie hospitale in Gauteng en KwaZulu-Natal ontplooi.
- Die Burger