Serwiër nie gedeporteer
2012-02-07 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Die Serwiese sluipmoordenaar Dobrosav Gavric het gister in drie sake in die Kaapstad-landdroshof verskyn.
In hof 21 het landdros Carin Lehmann die saak oor deportasie teruggetrek omdat hy ’n tydelike asielpermit het.
In hof 23 het hy verskyn op aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Immigrasiewet.
Adv. Anton Katz, Gavric se regsverteenwoordiger, het gesê die verdediging het geen versoek ontvang van die departement van justisie om Gavric uit te lewer nie. “Volgens wet moet my kliënt 40 dae nadat hy in hegtenis geneem is, vrygelaat word as die amptelike versoek nie ontvang is nie.”
Adv. Dave Damerill, adjunkdirekteur van die direktoraat van openbare vervolging en die staatsaanklaer in die saak, het gesê hy het die versoek skriftelik van die departement ontvang en sal dit aan die verdediging beskikbaar stel.
Landdros Joe Magele het die saak tot 10 Februarie uitgestel vir die verdediging en die staat om die uitleweringsbevel te bespreek.
In hof 16 het Gavric op aanklagte van bedrog verskyn. Die staat voer aan dat hy bedrog gepleeg het deurdat hy ’n vervalste paspoort, rybewys en vuurwapenlisensie onder die naam Sasa Kowasewic besit het.
Landdros Justhree Steyn het die saak vir verdere ondersoek tot Vrydag uitgestel.
- Die Burger