SAKP ook nie reg vir ’n tribunaal
2010-08-29 23:05
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapstad
Die ANC se beoogde media-appèltribunaal het uit eie geledere die wind van voor gekry toe die SAKP aangekondig het dat hy die plan nie meer onvoorwaardelik steun nie.
Die SAKP se sentrale komitee het gister onder meer ook gewaarsku teen “politieke manipulering” van die hele proses.
Die sentrale komitee – die party se hoogste gesagsliggaam – het die naweek vergader om oor kwessies soos die landwye staking en die besprekingsdokumente vir die regerende alliansie se hoofraadsvergadering einde September te besin.
Waar senior SAKP-leiers, soos dr. Blade Nzimande en mnre. Gwede Mantashe en Jeremy Cronin, tot baie onlangs prontuit vir ’n mediatribunaal voorbrand gemaak het, het die party ná die naweek se byeenkoms egter voorbehoude gehad.
Dit kom nadat ook Cosatu verlede week gesê het hy kan nie ’n mediatribunaal ondersteun wat “wegkruipplek aan korruptes sal gee nie”.
Nzimande het gister op ’n nuuskonferensie gesê daar moet teen “politieke manipulering” van die proses (om ’n mediatribunaal tot stand te bring) gewaak word.
Die SAKP het voorgestel dat ook die media in ’n keuringspaneel moet dien om mense vir die tribunaal aan te stel en dat dié taak nie net aan die parlement oorgelaat kan word nie.
Die party het voorts beklemtoon dat die tribunaal “volkome onafhanklik” moet wees.
“Onafhanklik van enige partypolitieke of regeringsinvloed asook onafhanklik van inmenging van die kommersiële media.”
Die SAKP het voorts lof gehad vir pogings van ’n aantal publikasies wat onlangs hul eie peil van selfregulering probeer verbeter het.
“’n Onafhanklike mediatribunaal en selfregulering moenie as twee teenpole beskou word nie.”
Wat die regering se voorgenome Wet op die Beskerming van Inligting betref, het die SAKP gesê hy stem saam met “diegene in die media en elders” dat daar gewaak moet word daarteen dat die klassifikasie van inligting nie korrupsie toesmeer nie.
“Wetgewing om inligting te beskerm moet gemik wees op die bewaring van sensitiewe inligting en nié op die media nie.”
Wat die landwye staking betref, het die SAKP gesê die gaping tussen die vergoeding van top-staatsamptenare en diegene op grondvlak is hopeloos te groot en daarom gaan hy ’n beroep op die regering doen om ’n moratorium te plaas op salarisverhogings van top-amptenare.
Die SAKP het sy standpunt van vroeër, dat die staking om hoër lone geregverdig is, maar dat swak dissipline veroordeel moet word, herhaal.
“Die verwaarlosing van pasiënte en die fisieke geweld teen studente en mede-onderwysers – al hierdie voorvalle doen afbreuk aan die legitimiteit van die staking en verdeel die werkersklas eerder as om hulle te verenig.”
Die SAKP het ook gesê hy sal nie toelaat dat die ANC se komende raadsvergadering ontaard in faksiegevegte en magspeletjies in die aanloop tot die 2012-kongres nie.
Dit kom nadat die ANC-jeugliga op sy hoofraadsvergadering verlede week opnuut daarop aangedring het dat Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, in 2012 deur die jonger mnr. Fikile Mbalula (adjunkminister van polisie) vervang moet word.
- Die Burger