SA pare wat skei baklei nie kat en hond oor hul troeteldiere
2010-05-20 01:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Pretoria
In slegs sowat een uit elke tien egskeidings kom ’n kat of ’n hond ter sprake, want Suid-Afrikaners redeneer meer “sinvol” oor hul vierpotige besittings as Amerikaners en Britte.
The Blue Cross, ’n troeteldier-liefdadigheidsorganisasie in Brittanje, het op sy webblad gesê om gemeenskaplike bates te verdeel, soos om te besluit by wie die kat of hond gaan bly, kan “uiters stresvol” wees.
Me. Fiona Rasmusen van die prokureursfirma Gibson Kerr in Skotland het volgens The Blue Cross voorgestel dat paartjies voorhuwelikse kontrakte sluit oor hul diere.
Mnr. Peter Baker, ’n Kaapstadse prokureur wat in egskeidingsake spesialiseer, het gesê ’n klousule in die egskeidingsooreenkoms wat handel oor die diere kom in sowat een uit elke tien egskeidings in Suid-Afrika voor.
Die klousule lui byvoorbeeld watter party die uitsluitlike besit van die dier kry.
Hy het gesê 90% van egskeidings word buite die hof geskik. As diere deur die partye bespreek word, gebeur dit hoofsaaklik op die voorverhoorkonferensie waar die skikkings bereik word.
Baker het gesê die troeteldier-onderwerp kom merendeels voor by pare wat nie kinders het nie en waarskynlik onder ryker mense.
Mnr. Joel Shoot, ’n prokureur van Johannesburg, het gesê Suid-Afrikaners tree “baie meer sinvol” op wanneer oor troeteldiere besluit word.
Hy het gesê dié besluite spruit ook uit Suid-Afrikaners se kultuur. “By ons slaap Wagter meestal buite, maar in Brittanje slaap hy binne.”
Tom Cox het onlangs in die Britse Daily Mailgeskryf dit het ’n katastrofe afgegee toe hy en sy vrou tydens hul egskeiding oor hul ses katte baklei het dat die hare waai.
Cox is die skrywer van Under The Paw: Confessions of a Cat Man. Die katte woon by hom.
- Die Burger