Rykes gevra om aan studie deel te neem
2012-02-24 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Een van Suid-Afrika se grootste gesondheidstudies word tans onderneem, maar van die veldwerkers sukkel om toegang tot veral van die meer welgestelde huishoudings te kry.
Dr. Olive Shisana, hoof van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), het ’n beroep op mense gedoen om met dié driejaarlikse Suid-Afrikaanse nasionale MIV-, gedrags- en gesondheidstudie te help.
Nog 14000 huishoudings moet oor die volgende vyf maande deur 75 opgeleide spanne besoek word.
“Om werklik beleid te vorm en besluite te neem wat die hele land tot voordeel strek, moet die steekproef almal insluit – ryk én arm, MIV-positief én MIV-negatief,” het Shisana gesê.
Die studie bestaan uit twee dele: ’n vraelys en ’n vingerpriktoets. Shisana het gevra dat ouers ook hul kinders toelaat om deel te neem. Die vingerpriktoets is om vir MIV te toets.
Shisana het daarop gewys dat die identiteit van mense wat deelneem, beskerm word.
Die MIV-resultaat word nie dadelik bekend gemaak nie, maar as mense die uitslag wil weet, word hulle versoek om na ’n kliniek te gaan vir berading voor en ná die proses. Die RGN sal die resultate van die studie in Oktober bekend maak.
Werkers wat by huise omgaan, dra ’n T-hemp van die RGN en het identiteitskaarte.
Indien iemand die identiteit van ’n veldwerker wil nagaan, kan die volgende projekdirekteure gebel word: mnr. Sean Jooste, by 0021466 7942, dr. Njeri Wabiri by 012 302 2035, me. Ntombizodwa Mbelle by 012302 2614 of mnr. Johan van Zyl by 012 302 2726.
- Die Burger