Resessie 'is net tegnies verby - so hou die gordel intrek'
2009-11-25 02:11
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Johannesburg
Mense moet steeds die gordel intrek, veral oor die Kerstyd, het kenners gister gemaan.
Die nuwe ekonomiese groei is ’n “stadige opswaai”, het mnr. Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, gesê. “Mense moenie dink platskerm-TV’s gaan môre uit die lug val nie.”
Suid-Afrika is einde verlede jaar die eerste keer in 17 jaar in ’n resessie gedompel.
Suid-Afrika se resessie het drie kwartale geduur, maar dit het gister bekend geword dat die ekonomie in die derde kwartaal vanjaar met 0,9% gegroei het.
“Ons moet baie bly wees,” het dr. Elna Moolman, senior ekonoom by die makelaarsfirma Barnard Jacobs Mellet, gesê. “Begin vanjaar was daar baie onsekerheid. Mense het selfs gepraat van ’n depressie.”
Sy meen die groei gaan vir die volgende paar jaar aanhou – teen ’n gemiddelde van sowat 3,5% per jaar.
Dis egter geen rede vir die gemiddelde Suid-Afrikaner om die vreugdevure aan te steek nie.
“As jy kyk na werkskepping,” het Roodt gesê, “is ons op ’n manier nog in ’n resessie, want ons hou aan om poste te verloor.”
Volgens hom gaan werkverliese waarskynlik tot die eerste kwartaal van 2010 voortduur. Sedert einde verlede jaar is Suid-Afrika byna ’n miljoen werksgeleenthede kwyt.
Dié patroon sal eers middel volgende jaar omgekeer word, meen Moolman. “Dit gaan egter wesenlik langer neem om daardie werksgeleenthede terug te kry.”
Mense gaan ook nog baie lank afbetaal aan die berge skuld wat oor jare aangegaan is, het dr. Nico Swart van die departement persoonlike en finansiële bestuur aan Unisa gesê.
Sowat miljoen mense per jaar raak steeds bankrot en nog baie meer beland in groot finansiële moeilikheid, het Swart gewaarsku. “Dis nog steeds taai tye en dit gaan taaier word. Water en elektrisiteit gaan in die volgende vyf jaar met 600% styg van waar dit begin vanjaar was.”
Rentekoerse gaan volgens vooruitskattings ook in die tweede helfte van volgende jaar weer klim.
Die gemiddelde Suid-Afrikaner gaan dus nog lank die geldknyp voel. “Eers drie tot vyf jaar van nou af sal die ding vir óns begin draai,” meen Swart.
Moet ook nie staatmaak op skerp groei in jou eiendomsprys oor die volgende paar jaar nie, het mnr. Erwin Rode, eiendomskenner van Kaapstad, bygevoeg. “Huispryse gaan styg teen ’n koers wat laer is as inflasie.”
Die feit dat die resessie op ’n end is, is ’n tegniese punt.
“Dit beteken net daar is lig aan die einde van die tonnel.”
- Die Burger