Regering se rol in ekonomie in soeklig
2012-02-04 03:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Die Federasie van Unies van Suid-Afrika (Fedusa) het gister die regering gemaan oor staatsingryping in die ekonomie.
Dít terwyl die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) ook die aangeleentheid bespreek op sy vergadering wat gister begin het.
Fedusa het in ’n verklaring staatsingryping in die ekonomie op grond van ideologiese beginsels verwerp, terwyl die ANC-jeugliga telkemale gevra het vir die nasionalisering van myne.
Volgens die vakverbond moet enige ingryping in die ekonomie in lyn wees met die Grondwet en empiriese navorsing.
“Ons het groot ongelykhede, armoede, gebrekkige openbare dienste en een van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld.
“Ofskoon Fedusa die behoefte erken dat dié kwelpunte getakel moet word, moet gevra word of nasionalisering die oplossing is.”
Volgens die vakbond sal die konsep duidelik gedefinieer en alle gevolge behoorlik opgeweeg moet word indien daar na die moontlikheid van nasionalisering gekyk word.
Die opmerkings volg nadat bevindings van ’n onafhanklike studie oor die haalbaarheid van die nasionalisering van myne na wat berig word vandeesweek gefinaliseer is.
Daar is berig dat dié verslag die ANC, wat die onafhanklike studie laat doen het, daarvan afraai om myne te nasionaliseer.
Mnr. Keith Khoza, nasionale ANC-woordvoerder, het geweier om dit te bevestig of te ontken.
Die verslag word nou deur die NUK bespreek.
Fedusa het gesê hy is optimisties dat die ANC die verslag openbaar sal maak.
Adj.pres. Kgalema Motlanthe het vroeër by geleentheid die versekering gegee nasionalisering van myne is nie regeringsbeleid nie.
Tog vind besprekings hieroor, en oor kwessies soos onderwys, in aanloop tot die Junie-beleidskongres in ANC-takke plaas.
- Die Burger