Regering gee skiet
2011-06-25 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapstad - ’n Oorwinning vir demokrasie, maar die stryd is nog nie gewonne”.
Só het kommentators, drukgroepe en organisasies wat ’n regstreekse belang het by die omstrede wetsontwerp op die Beskerming van Inligting, hul verligting verwoord nadat die ANC gister heelwat skiet gegee het en aanpassings gemaak het.
In nóg ’n verrassende skuif het mnr. Collins Chabane, minister in die presidensie, ook gister oënskynlik vir mnr. Jimmy Manyi, die regering se hoofwoordvoerder, gerepudieer toe hy ’n afvaardiging van die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) by die Unie-gebou in Pretoria die versekering gegee het dat dit nie regeringsbeleid is om regeringsadvertensies te gebruik om redaksionele inhoud te manipuleer nie. (Berig op bladsy 2)
Manyi het vroeër gesê die regering oorweeg dit om net in die media te adverteer wat hom goedgesind is.
Maar dit was in Kaapstad waar die grootste slag geslaan is. Een van die toegewings is dat die mag om inligting te klassifiseer hoofsaaklik tot sekerheidsdepartemente beperk word en nié aan ander staatsdepartemente ook verleen sal word nie. Laasgenoemde kan wel aansoek doen om sodanige mag.
’n Klousule wat ’n minimum vonnis van 15 jaar voorstel vir diegene wat daaraan skuldig bevind word dat hulle inligting wederregtelik bekom, insamel of versprei, is ook verwyder. Daar was veral kommer oor hoe dié klousule joernaliste en fluitjieblasers sou raak.
Die ANC se besluit is deur mnr. Lluwellyn Landers (ANC-LP), in die ad hoc-komitee wat die wetsontwerp bespreek, aangekondig.
Hy het vertel ’n lid van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee het hom byvoorbeeld gevra: “Wat de hel doen julle?”
Skerp kritiek is deur onder meer Cosatu, die Nelson Mandela Stigting en verskeie oudministers, soos wyle prof. Kader Asmal en mnr. Ronnie Kasrils, oor die wetsontwerp uitgespreek.
Landers het gister gesê die “kultuur van geheimhouding” moet verander word.
Die ANC het ook voorgestel dat ’n afgetrede regter aangewys word as die appèlowerheid wat dispute moet oplos.
Idasa het dié voorstel verwelkom en gesê tesame met veranderings aan die paneel wat geklassifiseerde inligting moet hersien, sal dit voldoen aan sy eis dat ’n onafhanklike liggaam deur die parlement – en nié die minister van staatsveiligheid nie – aangestel word.
Die grondwetkenner prof. Pierre de Vos het gesê dit is nie net ’n oorwinning vir die media nie, maar ook vir demokrasie en burgerlike aktivisme.
“Toegang tot inligting bevorder goeie burgerskap.”
Volgens De Vos is die grootste uitstaande probleem die definisie van “nasionale sekuriteit”.
“Hierdie is eerder ’n filosofiese as ’n regsdefinisie wat vernou moet word sodat die versoeking verwyder word om inligting te klassifiseer wat nie geklassifiseer behoort te word nie.”
Mnr. Steve Swart (ACDP-LP) het gesê die toegewings bewys hoe ’n deursigtige parlementêre proses, tesame met druk van die burgerlike samelewing, kan lei tot reuse-verbeterings aan ’n wetsontwerp.
Die Nasionale Persklub was gister veral verheug dat die minimum vonnisse in die wetsontwerp verwyder is weens die bedreiging wat dit vir mediavryheid ingehou het. “Dit beteken egter nie die stryd is verby nie,” het die voorsitter, mnr. Yusuf Abramjee, gesê.
Die Universiteit Stellenbosch, wat vroeër kommer uitgespreek het oor akademiese vryheid en die moontlike vervolging van akademici as die wetsontwerp goedgekeur word, het die wysigings verwelkom. “Dit behoort nou net in uitsonderlike gevalle die onderrig en navorsing van universiteite te raak,” het prof. Arnold van Zyl, waarnemende rektor en viserektor: navorsing gesê.
- Die Burger