Ramp tref Kaap
2010-04-19 23:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapstad
Die vlugverbod oor dele van Europa die afgelope vyf dae weens vulkaniese as het nie net internasionaal nie, maar ook plaaslik miljoene rande se skade berokken.
Die Wes-Kaap se blombedryf, wat jaarliks R160 miljoen inbring en wat sy uitvoere meestal met lugvervoer versend, is in dié provinsie die swaarste getref.
“Dit is ’n ramp vir hulle,” het mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse minister van finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, gesê.
“In dié stadium verwag ons uitvoerders ’n verlies van R2,4 miljoen tot Dinsdag, maar die bedrag vermeerder elke dag wat hulle nie hul voorraad kan aflewer nie.”
Mnr. Willem Verhoogt, uitvoerende direkteur van Bergflora, een van die grootste uitvoerders van bederfbare blomme uit Suid-Afrika, het gesê dit is die eerste keer ooit dat hulle vir soveel dae aaneen nie kan uitvoer nie.
“Ons het vyf ton proteas vermors. As die vlugte vanaand hervat word, hoop ons om teen Donderdag, maar waarskynlik eers Vrydag, plek te kry.”
Dit is moeilik om plek te kry omdat daar ’n agterstand is.
Minder as 1% vrugte in die Wes-Kaap word met lugvervoer uitgevoer en word dus nie erg geraak nie. Dokumente vir dié vlugte word egter per vliegtuig vervoer en “daar kan ’n situasie ontstaan waar vrugte aankom, maar dokumente nie, en die vrugte sal nie by doeane ingeklaar kan word nie”.
Mnr. Albert Schuitmaker, uitvoerende direkteur van die Kaapse Streekkamer van Handel en Nywerheid, het gesê die toerismebedryf word ook swaar getref.
Toeriste wat nou langer in die land moet aanbly as beplan, bestee nie baie nie. Die kansellasie van verblyf en toerisme-bedrywighede sal ook ’n groot terugslag wees.
Kaapstad Toerisme het met ’n opname begin om die ekonomiese impak op dié bedryf te bepaal, het me. Mariette du Toit-Helmbold, uitvoerende hoof van Kaapstad Toerisme, gesê.
“Daar is baie onsekerheid en frustrasie, maar daar is ook ’n geleentheid om buitengewone gasvryheid te wys deur ’n helpende hand te reik na besoekers wat gestrand is. Baie mense het nie begroot om langer te bly nie, en ons vra hotelle en toerisme-instellings om hul vrygewigste tariewe aan te bied.”
Mnr. Dirk Elzinga, besturende direkteur van die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks), het gesê hulle huisves “gelukkig nie” enige internasionale konferensies hierdie week nie.
Onder die internasionale sportgeleenthede wat geraak is, is die eindronde van die wêreldskaakkampioenskap tussen Veselin Topalov van Bulgarye en Viswanathan Anand van Indië, berig AFP. Die kragmeting moet Vrydag in Bulgarye plaasvind, maar Anand is in Frankfurt gestrand en wil graag ’n week voor die wedstryd reeds in Bulgarye wees.
Talle skrywers, waaronder Suid-Afrikaners, kon nie by die jaarlikse Londense Boekeskou van 19 tot 21 April uitkom nie.
Die Europese vlugverbod, wat die lugvaartbedryf daagliks miljarde rande kos, word van vandag af gedeeltelik opgehef, berig Reuters.
In Kaapstad is sowat 44 vlugte na en van die lughawe gekanselleer, het me. Deidré Hendricks, woordvoerder van die Lughawensmaatskappy, gesê.