Paarliet vra sy geliefde die jawoord in akwarium
2010-12-13 00:52
Kaapstad
“Anneke Schoeman, sal jy met my trou?”
Op die oog af klink dit soos ’n normale huweliksaanbod.
Maar vir me. Anneke Schoeman (33) van die Paarl was dit die laaste ding wat sy op haar eerste besoek aan die Twee Oseane-akwarium by die V&A Waterfront verwag het.
Schoeman is gister omstreeks 15:10 deur die man in haar lewe, mnr. Frikkie van der Merwe (35), ten aanskoue van talle besoekers gevra om te trou. Twee duikers het, nadat hulle die haaie kos gevoer het, ’n banier oopgevou waarop die groot vraag gestaan het.
Hierna het Schoeman geskok omgedraai waar Van Der Merwe op sy knieë met die ring in sy hand gewag het.
Besoekers wat ook die vertoning bygewoon het, het net so verbaas gereageer en spontaan begin hande klap.
“Ek is in ’n skoktoestand,” het Schoeman ná die tyd aan Die Burger gesê.
“Wat Frikkie gedoen het, is eintlik nie in sy aard nie. Hy het homself oortref.”
Die paartjie is al ’n jaar en drie maande saam. Tog was daar geen twyfel by Van der Merwe en Schoeman dat sy sou ja sê nie.
Van der Merwe se swaer, mnr. Cobus Barnard, het twee weke gelede ’n lys met moontlike maniere om die groot vraag te vra, aan hom gestuur.
Buiten die akwarium-idee, was nog twee opsies om Van der Merwe in ’n boks by Schoeman se werk af te laai of om ’n video op die webwerf Youtube te sit waarin hy haar vra om met hom te trou.
Die twee het ’n week en half aan die verrassing beplan.
Nietemin kon Van der Merwe nie voor, tydens en ná die groot vraag ophou bewe nie.
“Hy het so gebewe hy kon nie die ring aan my vinger kry nie,” het ’n opgewonde, maar steeds geskokte, Schoeman gesê.
“Ek moes hom naderhand help om dit aan te sit,” het sy laggend gesê.
Van der Merwe het beaam dat hy “baie senuagtig” was.
“Net my familie en Cobus het van my plan geweet.
“Dit is vandag (gister) ook my ouers se 40ste huweliksherdenking.
Gevra wanneer die groot geleentheid moontlik kan plaasvind, het die pas verloofde paartjie te kenne gegee dat hulle graag ’n wintertroue sal wil hê.
“Ons sal kyk na Junie of Julie volgende jaar,” het Schoeman gesê.
- Die Burger