Pa ry, Dirkie klou, en toe val ma flou...
2012-02-21 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
STELLENBOSCH. – Terwyl ’n klein seuntjie windverwaaid en verskrik aan die disselboom van ’n bewegende sleepwa agter ’n dubbelkajuitvoertuig vasgeklou het, het ’n fietsryer van Wellington gejaag om die bestuurder te waarsku.
Dit was vroegoggend op 16 Desember verlede jaar toe mnr. Evan Smit voor kerk buite Wellington gaan fietsry het.
Op die pad tussen Bainskloof en die dorp het ’n dubbelkajuitvoertuig met ’n sleepwaentjie en fietse daarop in dieselfde rigting by Smit verbygery.
“Uit die hoek van Evan se oog het hy iets waargeneem wat sy aandag getrek het, en het hy die voertuig op sy fiets agternagesit,” het Smit se oom, mnr. Bok Smit van Stilbaai, gister vertel.
“Evan kon toe tot langs die sleepwa jaag. Groot was sy verbasing om ’n seuntjie van so vier of vyf jaar oud op die A-raam van die sleepwa se disselboom te sien sit. Hy het om lewe en dood aan die knop van die stelwiel vasgeklou.
“Evan het besef hy moet die bestuurder se aandag probeer trek. Hy kon die voertuig egter nie ingehaal kry nie,” het mnr. Bok Smit gesê, wat besluit het om sy broerskind se storie te vertel om ouers meer bewus van kinders te maak.
Evan was reeds doodmoeg toe hy die seuntjie op die disselboom gesien het en moes toe nog jaag om die mense in te haal. ’n Rooi verkeerslig het die bakkie tot stilstand gebring en hy het die bestuurder ingehaal.
“Evan het gedaan teen die bestuurder se deur geval om sy aandag te trek. Die bestuurder het sy ruit gesteurd afgedraai, seker om te hoor wat die fietsryer se probleem was.”
Smit se eerste woorde aan die bestuurder was: “Die engele was vandag met julle.”
“Evan het hom gevra of hy ’n seuntjie het. Sy vrou het dadelik na die agterste sitplek gekyk en gegil: ‘Waar is Dirkie?’ en flou geword,” het mnr. Bok Smit bygevoeg.
Die pa het vinnig uitgeklim en sy seuntjie nog op dieselfde plek sien vasklou.
“Evan was so moeg dat hy nie eens daaraan gedink het om die mense se besonderhede te vra nie. Hy het toe weggery.”
- Die Burger