Outoppe sit nou met seer kniekoppe
2010-09-03 22:44
Kaapstad – Ná drie dae van rugby is die oumanne se gô behoorlik uit.
Die Vintage-rugbykarnaval vir veterane by die Hoër Seunskool Wynberg het gister ten einde geloop en as ’n mens die ou krokke se mening gevra het, sou die meerderheid bevestig het genoeg is nou genoeg.
Moeë, seer lywe het gister een na die ander die strelende hande van die karnaval se fisioterapeut, me. Natalie Nel, gaan opsoek.
G’n wonder nie – dis nie asof die veterane skrikkerig was om laag en hard te lak nie.
’n Paar het soos wafferse Juan de Jongh’s onder hul teenstanders ingeseil.
Enkels, bene, arms, vingers en kniekoppe het in die slag gebly. Verskeie spelers, meestal dié ouer as 60, is hinkepink van die veld gehelp.
Vir baie van hulle was gister se wedstryde die “heel laaste” van hul loopbaan.
Daar is egter ’n klomp wat die lywe oor die volgende twee jaar gaan laat uitrus, net om fris en fiks te wees vir die volgende Vintage-toernooi. Dit word in 2012 in Hawai gehou.
Mnr. Gary Grant (68) van die Brisbane Budgies het gister gesê hy het sy kuiertjie in Kaapstad baie geniet. “Ek neem al vir jare aan die toernooi deel en Kaapstad is een van die mooiste plekke wat ek tot nog toe besoek het.
“Ek hoop net dié ou lyf hou tot die volgende Vintage-karnaval. Op die oomblik is dit maar eina,” het Grant gesê, terwyl sy seer kuite ingevryf is.
)?Daar was net een ernstige besering gedurende die karnaval. ’n Franse speler is Maandag per abuis op sy strot getref.
“Die speler is tydens ’n duikslag op sy strot getref. Hy het vir ’n paar minute ongemaklik asemgehaal. Ons het hom na die Constantiaberg-kliniek geneem, waar hy Dinsdag geopereer is. Hy sterk tans in die kliniek aan en is buite gevaar,” het mnr. Glen Petersen, ’n paramedikus, gesê.