Oorlogskip se kanon ná 248 jaar uit see gehaal
2011-08-16 22:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
’n Skeepskanon wat verlede Saterdag ná 248 jaar by Fransmanshoek oopgespoel en uit die see gehaal is, gaan skoongemaak en op Vleesbaai of by Fransmanshoek staangemaak word.
Die kanon, wat 2,5?m lank is en sowat 1?ton weeg, is afkomstig van ’n Franse oorlogskip, die La Fortune wat in September 1763 by Fransmanshoek gestrand het, volgens mnr. Callie Moller wat deel was van die span wat die kanon uit die see gehaal het.
“Die kaptein en ongeveer 400 bemanningslede het oorleef. Die oorlogskip was op pad van Mauritius na Frankryk toe dit gestrand het.”
Moller het gister aan Die Burger gesê die kanon is in April vanjaar met laagwater deur mnr. Chris en me. Annalene Booysen van Wellington opgemerk, maar dit het weer toegespoel.
“Mnr. Riekie van Rensburg, ’n bewaringsliefhebber, het daarvan te hore gekom en besluit om die geskiedenisskat vir die nageslag te bewaar.
“Verlede week is die kanon weer vir die eerste keer (sedert April) deur mnr. Bart Saaiman van Vleesbaai opgemerk. Riekie het besef hy moet vinnig speel voor die kanon weer in ’n sandgraf begrawe word.”
Me. Annette Human van die Diaz-museum op Mosselbaai het Van Rensburg gehelp om die nodige permitte te kry om die kanon uit die see te haal.
Vroeg Saterdagoggend het Van Rensburg en ’n span helpers – mnre. Kobus en Louis van Rensburg, Roland Scholtz van CapeNature, Moller, Fred en Frik Orban, Nellis Beyers, Wim Fullard, me. Nicol Hanekom en mnr. Dirk en me. Brenda Human, wat foto’s geneem het – bymekaargekom om die kanon te herwin.
Die kanon is met kettings en ’n tou uit die see gesleep, en word tans skoongemaak.
Volgens Moller is die kanon slegs die vierde wat oor die afgelope 250 jaar oopgespoel het. Die oorlogskip het 56 kanonne aan boord gehad.
“Die eerste twee is in 1930 in dieselfde omgewing gevind. Die derde is in 1960 deur ene Louis van Rensburg gekry. Sy kleinseun, Louis (van Rensburg), was deel van die span wat die vierde kanon uit die see gehaal het.”
Die eerste drie kanonne staan by Kanon tussen Fransmanshoek en Gouritsrivier.
- Kom sluit aan by Die Burger se Facebook-blad en kry vars brokkies deur die dag.
www.facebook.com/#!/pages/Die-Burger/350965728102