Onbekende Stern-skilderye miljoene werd
2010-09-03 01:24
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapstad
’n Skildery van Irma Stern, Bahora-meisie, kan in Oktober in Londen die hoogste prys ooit vir een van haar werke behaal.
Die skildery en nog drie werke van haar word op 26 en 27 Oktober deur die afslaer Bonhams in Londen opgeveil.
Volgens mnr. Julian Roup van Bonhams is Bahora-meisie in 1945 geskilder in ’n tyd toe Stern baie tyd in Zanzibar deurgebring het, waar “sy sterk deur die skoonheid van die plaaslike Indiese vroue aangeraak is”.
Die skildery is boonop nog in sy oorspronklike raam.
Bonhams skat die waarde van die skildery op tussen R7,2 miljoen en R10,8 miljoen, veral in die lig daarvan dat Suid-Afrikaanse kuns, en spesifiek dié van Stern en haar tydgenoot Pierneef, in die jongste tyd uiters gesog in die buiteland is.
As die skildery uiteindelik meer as R7,8 miljoen haal, sal dit ’n nuwe wêreldrekordprys vir ’n werk van Stern wees. Die bestaande rekord is in Suid-Afrika opgestel.
Plaaslike kunskenners het gister gesê hulle ken dié skildery glad nie. Die vermoede is dat Stern dit in Zanzibar aan ’n buitelander verkoop het en dat die werk sy pad só na Londen gevind het.
Die ander drie werke wat opgeveil word, is ewe onbekend aan plaaslike kunskenners met wie Die Burgergister gepraat het.
Dit is Stillewe van swaardlelies op ’n tafel (daar is ander bekende werke waarin Stern swaardlelies geskilder het) van 1949, Stillewe en Stillewe met begonia en Port St. John-rankplant van 1936.
Bonhams raam die gesamentlike waarde van die werke op tussen R18 miljoen en R24 miljoen.
- Die Burger