Omstrede middel in kapsule vir verslanking
2010-01-28 05:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Pretoria
Nóg ’n laboratorium sê hy het die omstrede voorskrifmiddel sibutramien, wat net in geregistreerde medisyne mag voorkom, in kapsules met die handelsmerk Simply Slim daarop gekry.
Mnr. Gys van Nieuwenhuizen, ’n chemiese ingenieur van Pharmaworx se laboratorium in Midrand, het gesê die laboratorium het dit ook in nog drie verslankingsmiddels – Forme Slim, Nu-Evo en HNS New Me – gekry.
Al die middels kom glo van die Medisynebeheerraad (MBR), wat op verskeie plekke daarop beslag gelê het.
Dit volg nadat Beeld, susterkoerant van Die Burger, Maandag berig het die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) het ook sibutramien in ’n pakkie met die handelsmerk Simply Slim gekry.
Sibutramien gaan in Europa dalk selfs as voorskrifmedisyne verbied word weens die kardiovaskulêre newe-effekte wat dit na bewering veroorsaak.
Simply Slim se uitvoerende hoof, mnr. Justin Adriaanse, het verlede week ontken die SABS-getoetste besending Simply Slim is hul produk.
Hy het beweer die besendingsnommer (20091029) daarop behoort nie aan hulle nie en hul produk word nagemaak.
Mnr. Marius Venter, ’n direkteur van Simply Slim, het op RSG gesê daar is ’n “komplot” teen hulle, die vervalste produk is in ’n groen houer en verskeie toetse toon hul produk bevat nie sibutramien nie.
’n Vrou van Pretoria het intussen ’n boksie aan Beeldverskaf met presies dieselfde besendingsnommer as die SABS-getoetste een.
Sy beweer sy het die inhoud korrek geneem, maar sulke newe-effekte ondervind (moegheid, swelling en hoofpyn) dat sy dit ná ’n maand gestaak het.
Die boksie is identies aan die produkte wat Beeldoral op die mark sien, kompleet met die Simply Slim-hologram daarop.
Albei sub-agente wat die vrou se boksie en die SABS-boksie verkoop het, hou vol hul voorraad het van Simply Slim se hoofkantoor gekom.
Pharmaworx het in sy ontleding bevind tussen 9 mg en 26,3 mg sibutramien is in drie boksies Simply Slim gekry.
Pharmaworx het ook sibutramien in HNS New Me (25,8 mg), Forme Slim (25,6 mg) en Nu-Evo (29,1 mg) gekry.
Besendings Simply Slim wat vermoedelik net in hul foeliepapier op ’n lughawe gekonfiskeer is, het positief getoets, terwyl besendings wat in hul verpakking by Simply Slim se perseel afgehaal is negatief was.
Gister by Pharmaworx het al die getoetste kapsules die groen Simply Slim-logo op gehad en kom in identiese foelieverpakking.
Die besendingsnommers op die foelieverpakking in die boksies het nie met die nommers op die boksies ooreengestem nie.
Die kleur van die inhoud van die verskillende besendings het verskil van room tot bruin.
Van Nieuwenhuizen het gesê die presiese hoeveelhede sibutramien in die middels moet nog deur ’n ander laboratorium bevestig word en kan dalk met sowat 15% verskil, maar dié voorskrifmiddel is beslis daarin.
Pharmaworx se eienaar, mnr. Mike Mackway-Wilson, het gesê hy staan by sy laboratorium se bevinding.
Volgens Van Nieuwenhuizen het die MBR Pharmaworx versoek om die toetse te doen. Die MBR het glo ook toetse by ander laboratoriums laat doen en bespreek die uitslae glo vandag op ’n raadsvergadering.
Die MBR het nie gister op medianavrae gereageer nie.
- Simply Slim en sy agente voer ’n veldtog om beriggewing oor hul omstrede produk te diskrediteer.
- Die Burger