Nóg twee kitsbanke opgeblaas
2012-02-04 03:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Wanorde in die polisie se misdaadintelligensie-eenheid en ’n gebrek aan ervare speurders kan moontlik die redes wees vir ’n toename in kitsbanke wat in die laaste jaar geteiken of opgeblaas is.
Georganiseerde misdaadsindikate buit die swakhede in die polisiestelsel uit, het dr. Johan Burger, ’n navorser van die Instituut vir Sekerheidstudies, aan Sapa gesê.
Twee Absa-kitsbanke is gister in Goodwood met plofstof opgeblaas.
Die eerste ontploffing in Vasco Boulevard naby die 7-Eleven is om 03:10 gehoor en ’n tweede kort daarna, het kapt. F.C van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, gesê.
Dit is die tweede voorval vandeesweek in die Wes-Kaap. Dinsdag is ’n kitsbank in Durbanweg by die Tyger Manor in Bellville ook met plofstof opgeblaas.
Uit die inligting wat die polisie ontvang het, blyk dit dat0 drie tot vier verdagtes in ’n wit voertuig van die toneel gevlug het. ’n Saak van kwaadwillige of opsetlike beskadiging van eiendom word ondersoek.
Van Wyk het gesê die bedrag wat geroof is, is nog onbekend.
“Een van die groot swakhede is die onvermoë om bruikbare misdaadinligting oor sindikate in te samel weens interne probleme,” het Burger gesê.
Volgens mnr. Marc Sternberg, besturende direkteur van Spark ATM Systems, teiken rowers kitsbanke wat op strate geleë is. “Dit vind gewoonlik tussen 02:00 en 05:00 in die vroeë oggendure plaas wanneer dit stil is.”
Altesaam 399 voorvalle van kitsbanke wat geteken is, is in 2010 en 2011 aangemeld teenoor 247 in 2009 en 2010. Die meeste voorvalle het in Gauteng en KwaZulu-Natal voorgekom.
“Van die voorsorgmaatreëls wat getref kan word, is om slegs kitsbanke binne winkelsentrums te installeer. Dit maak dit vir rowers moeiliker, want daar is meer sekerheid wat hulle dalk sal afskrik. Die publiek moet ook daarop bedag wees en enige ongerymdhede aan die polisie rapporteer,” het Sternberg gesê.
Sedert die begin van die jaar is kitsbanke in die Oos-Kaap, Gauteng, Noordwes en die Wes-Kaap geteiken.
- Die Burger