Ngcobo as hoofregter dalk goeie nuus vir Hlophe
2009-08-06 23:35
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Die omstrede regter John Hlophe se verydelde aspirasies om Suid-Afrika se hoofregter te word, kan dalk spoedig nuwe lewe kry indien hy eersdaags as een van vier nuwe regters van die konstitusionele hof aangewys word.
Regter Sandile Ngcobo (56), wat gister deur pres. Jacob Zuma benoem is as hoofregter Pius Langa se opvolger, het minder as twee jaar se diens in die land se hoogste hof oor voordat hy moet aftree.
Hy is in Mei 1999 deur oudpres. Nelson Mandela aangestel en moet ingevolge die Grondwet ná 12 jaar diens aftree.
Sou Hlophe, regter-president van die Wes-Kaapse hooggeregshof, dus eersdaags deur Zuma as regter van die konstitusionele hof aangewys word, kan hy hom weldra in die binnebaan bevind om Ngcobo op te volg.
Hy is een van 25 regters waarmee die Regterlike Dienskommissie (RDK) begin aanstaande maand onderhoude gaan voer om die vakante poste te vul.
Regskenners en waarnemers het Ngcobo se benoeming wyd verwelkom en bespiegeling verwerp dat hy ’n blote plekhouer is vir Hlophe, wie se kandidatuur sterk bevorder is.
Zuma se skielike benoeming van Ngcobo is beskryf as ’n “slim stukkie politieke voetwerk” om die giftige debat rondom Hlophe en die transformasie van die regbank te ontlont.
Enkeles het hul bedenkinge uitgespreek oor die manier waarop die besluit geneem is, aangesien die Grondwet bepaal ’n hoofregter word ná gesprekvoering met die RDK en leiers van politieke partye aangewys.
Die president se woordvoerder kon teen gisteraand nie bevestig of uitnodigings om sulke gesprekke te voer uitgestuur is nie en me. Helen Zille, DA-leier, het gesê sy het nog geen kontak daaroor met Zuma gehad nie.
Cobus Claassen berig Zuma het die aankondiging in ’n toespraak voor die Nasionale Persklub in Pretoria gemaak. Zuma het ontken ’n uitlating verlede jaar deur adjunkhoofregter Dikgang Moseneke – dat hy in belang van die land en nie die ANC nie optree – het teen hom getel.
Ngcobo se aanstelling verbreek ’n tradisie dat die hoofregter deur sy adjunk opgevolg word, maar Zuma het gesê Ngcobo beskik oor die nodige bekwaamhede.
“Dit sou verkeerd wees om bloot aan te neem Moseneke gaan die opvolger wees.”