NG hoë se siening van evolusie
2010-07-26 23:38
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Pretoria
’n Herrie het losgebars om die kop van prof. Piet Strauss, moderator van die NG Kerk, na aanleiding van ’n standpunt wat hy oor evolusie ingeneem het.
Dr. Jurie van den Heever, ’n paleontoloog van die Universiteit Stellenbosch, het selfs woorde soos “dom” en “belaglik” gebruik in sy reaksie op Strauss se standpunt.
Hy het ook opgemerk dit is miskien gevaarlik om so iemand as moderator te hê van ’n kerk wat baie hoog oor die waarheid opgee.
Dit het alles begin toe die teologies konserwatiewe glanstydskrif Juig by Strauss wou weet wat die NG Kerk se amptelike standpunt oor evolusie is. “Word die Bybel nog onvoorwaardelik as die Woord van God aanvaar?”
Strauss het onder meer geantwoord hy glo in die Bybelse skeppingsleer met God-Drie-enig as Skepper van die hemel en aarde.
Hy dink daar kan binne die soorte van plant, dier en mens evolusionêre verandering plaasvind. “Daar is egter geen bewese sprake van ‘spontane’ oorgange tussen die soorte soos konsekwente evolusioniste beweer nie.”
Strauss voer aan fossiele kan dit nie bewys nie. Hy het konsekwente evolusie bestempel as “ ’n (by-)geloof met bewerings wat nie behoorlik gestaaf kan word nie”.
Volgens hom mag daar mense wees wat anders dink, maar sy voorouers was nie ape nie.
Mnr. Jean Oosthuizen van Kletskerk het Strauss se antwoorde aan Van den Heever gestuur en dié se antwoord op Kletskerk geplaas. Daarin het Van den Heever onder meer gesê dis gewoon dom om van spontane oorgange tussen spesies te praat, want die oorgange is nie spontaan nie. Oorsaak en gevolg is aan die orde van die dag.
Van den Heever het voorts gesê: “Om al die empiriese bewyse te ignoreer en evolusie as bygeloof te bestempel, toon duidelik dat Strauss óf nie lees nie óf geen kritiese oordeelsvermoë het wanneer dit by feite kom nie.”
- Die Burger