Morné Steyn se pa vas oor ‘diefstal’
2012-02-25 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
BLOEMFONTEIN. – Die Springbok-losskakel Morné Steyn se pa, mnr. Johan Steyn, is gistermiddag kort voordat sy seun vir die Bulle op die rugbyveld uitgedraf het in verband met beweerde diefstal in Bloemfontein in hegtenis geneem.
Steyn is gister deur speurders van die Parkweg-polisiekantoor by sy huis in Fichardtpark aangekeer.
Kapt. Chaka Marope, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig ’n 56-jarige man moet Maandag op aanklag van diefstal in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.
Mnr. Christoff Gaosenkwe (22), ’n werknemer van Stafix Electric Fence Centre, wat glo saam met Steyn by die diefstal betrokke was, het reeds in die hof verskyn en skuld beken.
Hy is verlede Saterdag in hegtenis geneem nadat dit aan die lig gekom het sowat R30000 se voorraad is by Stafix gesteel.
’n Mede-eienaar van Stafix het by navraag gesê hy het ’n voorraadopname gedoen en besef daar is voorraad weg.
Gaosenkwe het volgens die mede-eienaar gebieg hy is betaal om die voorraad vir Steyn te laai. Hy het Gaosenkwe glo R500 betaal vir elke hekmotor wat gelaai is. Motorhuismotore en afstandbeheerders is ook weg.
Steyn sr. bestuur ’n onderneming wat hekmotore installeer.
- Die Burger