Moenie Bafana in steek laat, vra regering
2010-06-18 02:17
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapstad
Die regering het gister ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om bankvas agter Bafana Bafana te bly staan.
Dít ten spyte van hul nederlaag van 0-3 Woensdag in die Wêreldbeker-wedstryd teen Uruguay.
Mnr. Themba Maseko, hoofregeringswoordvoerder, het gesê: “Ons is nog in die beginstadium van die toernooi. Dit is nie nou die tyd om terug te trek nie, ongeag die teleurstelling wat ons mag voel ná Bafana Bafana se nederlaag.
“Die sukses van die toernooi is afhanklik van ons gasvryheid as ’n nasie. Dit bly nog steeds ons toernooi. Dit hang van ons af om ’n sukses daarvan te maak.”
Dié standpunt is deur die plaaslike reëlingskomitee (PRK) gesteun. Die PRK het alle Suid-Afrikaners aangemoedig om steeds die toernooi te ondersteun.
“Ons as Suid-Afrikaners is ’n uitmuntende gasheer. Ons is hartseer dat die nasie nou treur, maar doen ’n beroep op die land om steeds ’n goeie gasheer te wees,” het mnr. Rich Mkhondo gesê, berig Sapa.
Maseko het gesê die jolkolle sal steeds gratis wees en Suid-Afrikaners is aangemoedig om aan te hou om dit te besoek. “Suid-Afrikaners het sedert die openingswedstryd gehoor gegee aan beroepe dat hulle goeie gashere moet wees en het in groot getalle uitgekom om ’n lewendige atmosfeer te skep. Ons wil hê dit moet so voortgaan.”
- Die Burger