Misdadigers in SA word beskerm, hoor Interpol
2010-10-22 03:06
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapstad - Internasionale afgevaardigdes op ’n DNS-beraad van Interpol in Lyon, Frankryk, het gehuil terwyl ’n voorlegging oor die situasie met DNS-profiele in Suid-Afrika aan hulle verduidelik is.
Veral foto’s van teddiebeertjies op mandjies vol koeverte met DNS-monsters wat op tonele van kinderverkragtings geneem is, het van die afgevaardigdes erg ontstel.
Só sê me. Vanessa Lynch van Kaapstad, wat die voorlegging met spesiale verlof van en as hoë uitsondering deur Interpol, gedoen het.
Lynch het haar loopbaan as prokureur laat vaar nadat haar pa in 2004 vermoor is. Sy was ontsteld oor die manier waarop die insameling van moontlike DNS-getuienis hanteer is en het besluit om haar heeltyds toe te spits op die bevordering van die DNS-stelsel in Suid-Afrika.
Sy is deur Interpol na Frankryk genooi in haar hoedanigheid as uitvoerende direkteur en stigterslid van die organisasie Projek DNS. Die polisie se forensiese eenheid het ook ’n voorlegging gedoen.
Lynch het gesê haar kruistog om Suid-Afrika se hantering van DNS-getuienis op dieselfde vlak as dié van die meeste Westerse lande te bring, gaan hoegenaamd nie oor die agterstande wat die polisie met die ontleding van DNS-monsters ervaar nie.
Dit gaan daaroor dat misdadigers in Suid-Afrika steeds beskerm word en dat die polisie tans nie DNS-monsters mag neem van verdagtes wat in hegtenis geneem word om dit op ’n rekenaar-databank te hou nie.
In die VSA is 6,8miljoen sulke DNS-profiele al tot die polisie se beskikking en in Europa meer as 7miljoen. In Suid-Afrika is net 123000 beskikbaar.
Sy het gesê die parlement sit nou al twee jaar met die Konsepwet op Strafreg (Forensiese Prosedures), maar dat slegs die eerste deel daarvan gepromulgeer is – maar nog nie in werking gestel is nie. Dié deel gee die polisie toegang tot vingerafdrukke wat onder meer die departemente van binnelandse sake en vervoer hou.
Die belangrike tweede deel, wat die polisie in staat sal stel om DNS-profiele saam te stel van elke mens wat as ’n verdagte in hegtenis geneem word of wat aan ’n misdaad skuldig bevind word, vorder egter baie stadig.
Me. Dianne Kohler Barnard, lid van die parlement se portefeuljekomitee oor die polisie, het gister gesê die tweede deel van die wet is vir die komitee baie belangrik en geniet voorkeur, “maar ons kan ook nie halsoorkop só ’n ingrypende wet deurvoer nie”.
Sy het gesê komiteelede bring eers aanstaande jaar, moontlik in Januarie, ’n besoek aan Kanada en Brittanje om te kyk hoe DNS-stelsels daar hanteer word. Daarna sal openbare verhore oor die wetgewing eers nog gehou moet word.
Intussen lê DNS-monsters in ernstige misdaadsake onaangeraak.
- Die Burger