Menings van kandidate in US raadsverkiesing

2010-03-09 11:42

Die Burger het aan elke kandidaat in die Universiteit van Stellenbosch se raadsverkiesing die geleentheid gebied om 'n mening van sowat 300 woorde te lug oor die kanselier, mnr. Johann Rupert, se uitlating oor taal teenoor uitnemendheid.
Die eerste twee kandidate se standpunte verskyn vandag. Die standpunte van die ander kandidate wat van dié geleentheid gebruik maak, sal daagliks gepubliseer word.
Enige kandidaat wat nie die uitnodiging ontvang het nie, word versoek om Ilse Krige by 021 887 8000 te bel vir besonderhede. Of hierdie kandidate kan bloot hul standpunte aanstuur aan ilse.krige@dieburger.com met 'n digitale foto van hulself daarby aangeheg.

Adv. Jan Heunis
Akademiese uitnemendheid en die voertaal van ’n universiteit behoort mekaar aan te vul, nie te ondermyn nie. Dit geld ook die Universiteit Stellenbosch, waar ’n intense debat hieroor reeds jare lank voortduur.
Maar dit is onwenslik as ’n voortslepende debat akademiese uitnemendheid in die gedrang bring of die universiteit se voertaal skade berokken. Sover dit al met die US gebeur het, moet uitsluitsel nou hieroor verkry word. So nie, sal die universiteit, Afrikaans en Suid-Afrika onherroeplike skade ly.
As ek, as oud-Matie, tot die universiteit se raad verkies word, sal ek my beywer om die debat op die spits te dryf – op ’n manier wat verseker dat die universiteit sy strewe na akademiese uitnemendheid ongehinderd kan vervul en Afrikaans as voertaal waarlik tot sy reg kom.
Die US moet klaarheid kry oor presies wat sy verbintenis tot akademiese uitnemendheid beteken en behels en dit in duidelike taal verwoord.
Die US moet ook deeglik besin, sinvol besluit en reguit praat oor die voertaal van sy keuse. As dit Afrikaans is, en gaan bly, moet hy dit ronduit sê. As dit nie is nie, moet hy moedig genoeg wees om dit eens en vir altyd te erken.
In die finale instansie moet die US die wisselwerking tussen sy opvatting oor akademiese uitnemendheid en sy gekose voertaal deeglik oorweeg en ’n verantwoordbare, duidelike standpunt daaroor inneem.
Die US se raad het die verantwoordelikheid om die US se voertaal te bepaal. Dis tyd dat die raad dit onomwonde sê: Die Universiteit Stellenbosch is Afrikaans en sal Afrikaans bly.


Prof. Pierre de Vos
Dit is jammer dat ons nog byna eksklusief op taalkwessies fokus terwyl die belangriker etiese en praktiese uitdagings die universiteit se aandag verg.
Weens gebreke in die huidige onderwysstelsel en die voortslepende gevolge van apartheid, beskik die meerderheid van voornemende studente van alle rasse nie oor die nodige vaardighede om sonder hulp ’n sukses van hul studies te maak nie.
Die huidige stelsel is ook nog erg onregverdig en baie jong mense word weens hul ras die geleentheid ontneem om hul volle potensiaal te bereik.
Suid-Afrikaanse universiteite het dus ’n etiese plig om voorheen benadeelde studente op groter skaal te akkommodeer en uitnemendheid na te streef. Dit plaas dosente onder druk. Hulle moet navorsing van internasionale gehalte produseer, terwyl hulle terselfdertyd moet verseker dat studente ’n gerekende kwalifikasie verwerf.
Die US moet bogenoemde dwingende etiese en praktiese uitdagings aanspreek ten einde ’n stabiele, regverdige Suid-Afrika te help bou. As ons nie ’n regverdige samelewing bou nie, sal daar op langtermyn geen politieke stabiliteit in die land gehandhaaf word nie. Daarsonder sit die meeste oud-Maties oor 20 jaar in Londen of Perth, en dan sal Afrikaans in elk geval nie oorleef nie.
Om dié koue werklikheid te erken, beteken nie dat Afrikaans nie vir my – soos vir baie ander oud-Maties – na aan die hart lê nie. Dit is juis omdat Afrikaans die taal van my hart is dat ek nie enige veldtog ondersteun wat taalkwessies aan die US belangriker as die strewe na geregtigheid ag nie.



Prof. Wannie Carstens

Dit is werklik jammer dat die voorgenome verkiesing op die US in so ’n relletjie ontaard het, en dit nogal oor taal versus uitnemendheid.
Die twee sluit mekaar natuurlik nie uit nie. Ek weet nie hoe mense daaraan gekom het om dié twee aspekte teenoor mekaar op te stel nie. Dat ’n mens die een of die ander invalshoek moet kies, maak hoegenaamd nie sin nie. ’n Mens gebruik juis taal om jou uitnemendheid te verwoord, op watter terrein jou uitnemendheid ook al kom.
My taal definieer my as mens en as kulturele wese en ek kan ook met vreugde getuig dat ek my kwalifikasies in Afrikaans (toevallig ook oor die Afrikaanse taalkunde) verwerf het – die feit dat ek dit in Afrikaans gedoen het, maak dit nie van mindere waarde nie. Inteendeel. Vanselfsprekend moet die US uitnemendheid nastreef – as die raad en bestuur dit nie doen nie, moet die universiteit ernstig herbesin oor die pad wat hy (wil) loop.
Ek glo dat die US die vermoë het om beide aspekte in sy beleid en doelwitte te verreken. Dit is ook waarvoor ek staan – dat ons by die US daarna streef om uitnemendheid in Afrikaans te bereik.
Vanselfsprekend moet ons nie ons kop in die grond druk nie, want ons funksioneer in ’n unieke meertalige omgewing. Engels sal dus ook ’n belangrike rol vervul in opleiding aan die US, maar net nie ter benadeling van Afrikaans nie.
Daarom: Ek steun heelhartig die US se strewe om ’n top-universiteit te wees en ek sal my ook aktief daarvoor beywer. Ek glo dat dit moontlik is om, benewens ’n volwaardige en volhoubare aanbod in Afrikaansmedium, hierdie taak ook in Engels te verrig, in ag genome bekostigbaarheid en geldelike steun deur die staat.


Marike Groenewald
Dit is opmerklik hoe vinnig die Universiteit Stellenbosch (US) se raadsverkiesing gepolariseer is. Indien ’n kandidaat vir uitnemendheid of ’n wêreldklas-instelling staan, is hy byna outomaties teen Afrikaans aan die US, en andersom.
Dis natuurlik ’n ou verkiesingstrategie om kandidate se argumente teen mekaar te stel, asof die een noodwendig die ander uitsluit. Dis boonop ook ’n gevaarlike strategie. Eerstens vereenvoudig dit komplekse kwessies tot simplistiese keuses wat op geen manier die konteks of spektrum van die kwessie erken nie.
Tweedens onderskat dit die vertolkingsvermoë van kiesers (in dié geval Matie-graduandi). Dis tog duidelik dat die keuse nie so eenvoudig is soos vir of teen Afrikaans nie.
Tesame hiermee is dit interessant om die gemiddelde ouderdom van die deelnemers aan die debat en die verkiesing op te let. Op 27 is ek die jongste individu wat myself vir benoeming beskikbaar gestel het.
Moet ek aanvaar dat jonger generasies Maties tevrede is dat daar namens hulle gepraat word? Dat die gesprek elke keer voortgesit gaan word deur dieselfde groepie mense? Dat dit die enigste mening verteenwoordig?
Nee. Ek het lank genoeg toegelaat dat daar namens my gepraat word. Oor die land. Oor politiek. Oor Afrikaans. Oor die pad vorentoe. Oor Stellenbosch. Van nou af praat ek vir myself.
Dus: ek staan vir ’n universiteit wat internasionaal kan meeding en ’n leeromgewing en kampuskultuur daarstel wat divers, uitdagend, verwelkomend en uitnemend is.
Ek staan vir die ontwikkeling van Afrikaans en haar plek aan die universiteit, die uitbou daarvan en die universiteit se unieke rol in die Wes-Kaap en ons land.



Steven Georgala
Die toekoms van die Universiteit Stellenbosch kan slegs verseker word as die etniese samestelling van die universiteit se studentekorps en akademiese personeel ’n realistiese weerspieëling van die wyer Suid-Afrikaanse gemeenskap is.
Daar bestaan reeds programme om gestelde diversiteitsdoelwitte te bereik en standaarde te verbeter, terwyl die beskikbaarheid van hoëkwaliteit-opvoeding in Afrikaans terselfdertyd verseker word. Hierdie programme vereis dat die universiteit die mees begaafde studente en die mees gekwalifiseerde akademici kan lok vanuit alle sektore van die gemeenskap.
Die realiteit van moderne Suid-Afrika is dat ’n beperkende taalbeleid (of selfs ’n debat oor die toepassing van so ’n beleid) juis dié studente wat die universiteit moet werf, mag afskrik. So ’n beleid beperk ook die groep waaruit die mees geskikte dosente gewerf kan word.
As die universiteit nie voldoende diversiteitsdoelwitte bereik nie, word dit blootgestel aan politieke inmenging. Dit is hoekom die strewe na diversiteit, sonder ’n verswakking van akademiese standaarde en sonder die inperking van kwaliteit-opvoeding in Afrikaans, veel belangriker is as enige voordeel wat moontlik verkry kan word deur die toepassing van ’n beperkende taalbeleid.
Die Universiteit Stellenbosch het die kapasiteit en intellektuele vermoëns om die primêre tersiêre akademiese instelling in Afrika te word. Sodanige erkenning sal die vergoeding wees vir die lewering van hoë- kwaliteit-gegradueerdes?wat?die ontwikkelingseise van die kontinent aanspreek.


George Steyn
Die Universiteit Stellenbosch (US) se hoogste prioriteit moet altyd akademiese uitnemendheid wees. Dit is vanselfsprekend en onnodig om te beklemtoon.
Wat opleiding en navorsing betref, moet die US internasionaal kan meeding en met die beste ter wêreld kan kers vashou.
Die US moet verseker dat sy kurrikulum altyd relevant bly deur gedurig by die nuutste ontwikkelinge in wetenskap en tegnologie aan te pas.
Ek stem nie saam dat Afrikaans as primêre taal van onderrig ’n belemmering kan wees in die US se strewe om sy bogenoemde doelwitte te bereik nie.
Wêreldwyd bied talle universiteite onderrig in ander tale aan, maar hulle hoef hoegenaamd nie agteruit te staan vir dié waar Engels wel die onderrigtaal is nie. Die US is tans tog self ’n sprekende voorbeeld van so ’n uitmuntende instelling.
Met Afrikaans as primêre taal van onderrig vervul die US in die wesenlike behoeftes van die talle Afrikaanssprekendes uit alle gemeenskappe wat in hul moedertaal tersiêr onderrig en opgelei wil word. Só word voorheen benadeelde Afrikaanssprekendes bemagtig en word ’n diens aan die Afrikaanse, asook die breër Suid-Afrikaanse gemeenskappe gelewer.
Dit is tyd dat die energie wat nou aan ’n sogenaamde “taalstryd” en etikettering van kandidate afgestaan word eerder gewy word aan vindingryke, praktiese en pragmatiese planne om te verseker dat die US Afrikaanssprekendes in Afrikaans kan onderrig. Terselfdertyd moet dit vir almal moontlik wees om aan hierdie uitmuntende universiteit te kan studeer.

Piet Beyers
Afrikaans is van kardinale belang vir die US en die US is van kritieke belang vir Afrikaans.
Die US moet hom beywer om Afrikaans te bevorder, maar moet terselfdertyd toeganklik wees vir ons land se andertaliges.
Uitnemendheid is ’n kerndoelwit en die US moet daarna streef om een van die wêreld se mees gerespekteerde universiteite te word.
Uitnemendheid is ’n akademiese doelwit en die bevordering van Afrikaans is ’n kulturele doelwit – daar is geen rede waarom ’n instelling tussen die twee moet kies nie.
Hierdie doelwitte is nie in konflik nie, maar eerder versoenbaar. Daar moet met dieselfde entoesiasme na albei gestreef word.
Met die regte strategieë en bestuur is albei doelwitte haalbaar.


Marius Fürst
Die beste Afrikaanse universiteit in die wêreld, of ’n wêreldklas-universiteit waar Afrikaans gekoester word?
Gegewe dié keuse, glo ek ons moet tog nou ophou om eersgenoemde te probeer heropgrawe en eerder die rektor en sy bestuurspan aktief steun om die strewe na wêreldklas-uitnemendheid ’n werklikheid te maak, terwyl Afrikaans, soos in die verlede, aan die Universiteit van Stellenbosch (US) gekoester word.
Gebore in Viljoenskroon, met skoolopleiding te Jan Celliers en Helpmekaar, en ’n BSc en MBA aan die US, is ek as Afrikaner, soos die kanselier, oortuig dat dit die enigste werklike opsie vir ons geliefde universiteit is.
Die kanselier se beroep op die US om nuwe tegnologie te omarm, was ook vir my ’n besondere raakpunt, aangesien ek my hele sakelewe lank in ’n hoëtegnologie-omgewing gewerk het (onder meer by Nasa se satellietopsporingspos te Hartbeeshoek, Hewlett-Packard, Siltek en Compaq).
’n Belangrike les uit hierdie omgewing is dat ’n instelling wat nie relevant bly met nuwe tegnologie nie, kan verwag om die stof van sy mededingers te proe.
Op sekere gebiede geniet die US reeds belangrike internasionale status, byvoorbeeld:
Sunsat, ’n satelliet wat by die US ontwerp en gebou is en in die ruimte wentel.
Die USB, wat onder die bekwame leierskap van prof. Eon Smit die enigste bestuurskool in Suid-Afrika is wat twee van die drie top-akkreditasies met oorsese bestuurskole het en ook verlede jaar 39ste op die Aspen-instituut se wêreldranglys was – die enigste SA bestuurskool wat op die ranglys verskyn.
Die US is na my mening uitstekend geplaas om ’n leidende rol in die nuwe globale gemeenskap te speel, solank sy bestuur toegelaat word om te bly vorentoe kyk en nie gekniehalter word deur diegene wat hunker na die verlede nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
7 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne die burger

Nuutste Nuus-kommentaar

Isabel sê... Die waarheid maak seer, ne ou Stortkop. Lees die storie...

Weer
Lotto
Ksd: 10-18°C Mostly sunny. Mild. Pta: 5-19°C Sunny. Cool.
Jhb: 2-16°C Sunny. Quite Cool. Bfn: 1-15°C Sunny. Quite Cool.
Dbn: 14-21°C Mostly sunny. Cool. PE: 13-19°C A few showers. More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Developer

JHB - Northern Suburbs
Communicate Bruma IT Delivery
R200000 - R300000

Management Accountant

JHB - Central
Communicate Midrand Finance Specialist Resource
Market Related

Management Accountant

JHB - Central
Communicate Midrand Finance Specialist Resource
Market Related

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

TOYOTA

Corolla 140i MY05
2007
R 112,995.00

AUDI

A3 2.0 FSi Attraction 3-dr
2004
R 165,000.00

NISSAN

Tiida 1.6 Visia+ 5-dr
2006
R 119,990.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.