Meer as 60% van leerders verkies Engels as medium van onderrig
2012-02-08 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
PRETORIA. – Meer as 60% van leerders in Suid-Afrikaanse skole verkies Engels as medium van onderrig en leer, terwyl net 7% van hulle dit as huistaal gebruik.
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) het gister in ’n verklaring gesê volgens die jongste statistieke van 2009 praat net 851536 van die sowat 12,2miljoen leerders in openbare skole Engels by die huis. Tog verkies 7,6miljoen van hulle Engels as onderrigtaal.
Meer as 3,1miljoen leerders se huistaal is Zoeloe. Minder as ’n derde verkies egter om in Zoeloe onderrig te word.
Naas Engels is Afrikaans die enigste taal wat meer leerders as onderrigtaal kies as wat daar is wat dit as huistaal gebruik. Na raming is Afrikaans 1,1miljoen se huistaal, terwyl 1,3miljoen dit as onderrigtaal verkies.
Mnr. Jonathan Snyman, ’n navorser by die SAIRR, het gesê die afname by Afrika-tale is die gevolg van ouers en leerders se keuses vroeg in hul skoolloopbaan.
Die meeste van die land se leerders word in die grondslagfase (gr.1 tot gr.3) in hul huistale onderrig, maar skakel van gr.4 af oor na Afrikaanse of Engelse onderrig.
- Die Burger