Manyi loop erg deur oor ‘kru rassisme’
2011-02-25 04:59
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapstad - Ruk mnr. Jimmy Manyi in die bek oor sy uitlating dat daar ’n “oorkonsentrasie” van bruin mense in die Wes-Kaap is.
Tensy die regering dít doen en die omstrede voorgestelde wysigings aan arbeidswetgewing terugtrek, sal dit as die amptelike standpunt van die regering beskou word, het Solidariteit gister gewaarsku.
Ook die DA het gesê dié stelling kom neer op “kru rassisme” wat Manyi se gebrek aan begrip van die geskiedenis openbaar.
Manyi, die nuwe regeringswoordvoerder en voormalige direkteur-generaal van arbeid, het egter teruggekap en Solidariteit van kwaadwilligheid beskuldig.
“Dit is ’n feit dat bruin mense in die Wes-Kaap gekonsentreerd is.”
Hy het hom geskaar by ’n verklaring van die departement van arbeid eergister dat bruin mense steeds onderverteenwoordig is in topbestuursposte in die Wes-Kaap, hoewel hulle die grootste bevolkingsgroep in die provinsie is. “Dit kom neer op ernstige diskriminasie teen bruin mense,” het hy gesê.
’n Video oor Manyi se “oorkonsentrasie”-uitlating wat hy in Maart 2010 in ’n onderhoud met Freek Robinson op kykNETgemaak het, is op YouTube beskikbaar gestel.
In die video sê hy bruin mense moet oor die hele land versprei word.
Kommer heers tans in die Wes-Kaap oor voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensname dat die nasionale bevolkingsyfers vir aanstellings in die werkplek gebruik moet word, pleks van die provinsiale demografie.
Navorsing van Solidariteit het bevind 80% van die bruin mense in die Wes-Kaap, oftewel ’n miljoen, kan hul werk verloor as dié wysigings deur die parlement aanvaar word.
Dr. Dirk Herman, adjunkhoof van Solidariteit, het gister in ’n verklaring gesê die voorgestelde wysigings en Manyi se siening stem ooreen.
“Daar is dus geen dubbelsinnigheid in die voorgestelde wysiging aan die wetgewing nie.”
Mnr. Grant Pascoe, DA-voorsitter in die Kaapse metropool, het op sy beurt gesê Manyi se “absurde” uitlating trek die departement van arbeid se standpunt dat die voorgestelde wysigings nie daarop gemik is om mense uit die provinsie te dryf nie, in twyfel.
“Die ANC moet Manyi dadelik repudieer en ondubbelsinnig verklaar dit is nie amptelike regeringsbeleid nie.”
Manyi het oor sy standpunt dat bruin mense hulself moet “versprei”, gesê: “Dit is belangrik vir bruin mense om te verstaan Suid-Afrika behoort in die geheel aan hulle. Dit is totaal onaanvaarbaar om nie bruin mense in elke sentimeter van die land te hê nie.”
Hy was onapologeties oor gelyke indiensneming. “Gelyke indiensneming is ’n doelbewuste stuk wetgewing om die ongelykhede van die verlede reg te stel. Ons maak nie verskoning daarvoor nie.
“Mense moenie dinge buite konteks aanhaal om politieke punte aan te teken nie.”
- Die Burger