Man se begrafnis ’n tameletjie
2012-02-08 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
PRETORIA. – Die familie van ’n uiters oorgewig man wat Vrydag in die Kalafong-hospitaal in Pretoria dood is, hoop om vandag uitsluitsel te kry of hy Saterdag begrawe of veras sal kan word.
Mnr. Chris Labuschagne (48), beter bekend as Vaatjie en wat bykans 550kg geweeg het, moes Donderdag deur 11 brandweermanne op ’n seil uit sy huis op ’n kleinhoewe in Erasmia gesleep word om hom by die hospitaal te kry.
Hy is Vrydag aan ’n onbekende kwaal dood nadat hy die afgelope drie jaar al bedlêend was.
“Om ’n sogenaamde ‘ekstra-ekstra-groot’ kis in die hande te kry, gaan baie duur wees. Meeste verassingsoonde is boonop te klein vir Vaatjie se lyf. Ons het darem al met ’n klomp begrafnisondernemers gepraat en hoop om môre (vandag) ’n besluit te kan neem,” het mnr. Lappies Labuschagne (62), ’n oom van Vaatjie, gister gesê.
Vaatjie se lyk, wat te groot was vir die koelkamers in die Kalafong-hospitaal, is gister van ’n lykshuis in Ga-Rankuwa na een in Lenasia geneem omdat ’n begrafnisondernemer daar meen hy het ’n verassingsoond wat groot genoeg kan wees.
“Standaard-verassingsoonde is 90cm breed, wat te klein is. Hierdie ou sê hy het ’n ‘oop’ verassingsoond en dat Vaatjie daarin sal pas. So ons sal maar sien,” het Labuschagne gesê.
’n Lid van die publiek het ’n hyskraan vir die familie beskikbaar gestel sou hulle besluit om Vaatjie eerder in ’n spesiale kis te begrawe. “Wat ook al ons besluit, dit gaan vrek duur wees. Ons aanvaar maar al die hulp wat ons kan kry.”
Vaatjie het destyds as ’n tegnikus vir Krygkor gewerk totdat hy sowat sewe jaar gelede ’n skeidingspakket aangebied is.
“Hulle het hom weer gevra om terug te kom, maar kort daarna het sy bene ingegee en kon hy weens sy gewig nie meer werk nie,” het mnr. Buks Hendriks, ’n neef van Vaatjie, gister gesê.
Daarna het sy vrou, Cecile (46), en sy dogter, Cecile jr. (25), wat albei medies ongeskik verklaar is, op die kleinhoewe alleen na Vaatjie begin omsien.
“Hulle was baie arm en het slegs op ’n ongeskiktheidspensioen van die staat geleef,” het Hendriks gesê.
Vaatjie en sy vrou was vir sowat 28 jaar getroud.
“Cecile en haar dogter sal vir eers by Cecile se broer gaan bly totdat ons vir hulle ’n behoorlike heenkome kan vind.”
Vaatjie het glo “sy hele lewe lank” aan vetsug gely.
- Die Burger