Man red kollega en word toe self prooi
2012-02-25 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
TZANEEN. – ’n Veldwagter van Limpopo vrees dat hy sy been kan verloor nadat hy in ’n rivier gespring het om ’n kollega uit die kake van ’n krokodil te red.
Die vier meter lange gedierte het mnr. Norman Chiwawu (27) beetgekry nadat hy ’n kollega, net bekend as Knowledge, gered het.
“Ek het gedink dit is my dag om dood te gaan,” het Chiwawu gister in sy bed in die Tzaneen-Mediclinic vertel.
“Mense se ek is ’n held...maar ek is ’n held wat dalk sy been kan verloor.”
Chiwawu, ’n Zimbabwiër, is al twee jaar ’n veldwagter by die Mogalakwena-wildreservaat in die Alldays-gebied.
Hy het Maandagmiddag omstreeks 17:00 langs die Mogalakwena-rivier gestap toe hy ’n man hoor skreeu.
“Ek het eers gedink dit is dalk ’n luiperd wat iemand aanval, want daar is baie luiperds.”
Chiwawu het die spartelende man sowat drie meter van die wal af in die krokodil se kake gesien.
“Die krokodil het die man geskud. Dan was Knowledge bo, dan onder die water. Hy het vreeslik geskreeu.
“Ek het nie aan enigiets gedink nie. Dit was seker instink om te gaan help.”
Chiwawu het ’n panga uit sy voertuig gegryp en die rivier ingehardloop. Hy het die krokodil misgekap, maar die dier het Knowledge laat los. Dié het net ligte snye en skrape opgedoen en wal toe geswem.
Chiwawu was ook op pad wal toe, “toe hoor ek net ‘klik’ soos die ding se bek om my been toeslaan”.
Die krokodil het hom minstens ses keer omgerol. “Toe ek een keer bo die water was, het ek na die riete op ’n klein eilandjie gegryp en vasgeklou.”
Hy het sy regterhand op die dier se neus gehad en dit probeer wegstoot. Die krokodil het sy been laat los.
“Ek het uitgestrompel tot op die eiland, toe kom die krokodil weer vir my.”
Die dier het daarna in die water verdwyn. Chiwawu het sy hemp uitgetrek en om sy bloeiende been vasgemaak. “Ek het baie bloed verloor en begin duiselig word.”
Intussen het werkers mnr. Christiaan Coetsee, ’n direkteur van die wildreservaat, gebel. Coetsee het Chiwawu op sy rug getel en uit die rivier geswem. “Chris(tiaan) het my lewe gered,” het Chiwawu gesê.
Coetsee het sowat 80 km met Chiwawu na ’n kliniek in Louis Trichardt gejaag, waarna hy na Tzaneen oorgeplaas is.
Dr. Alex Revelas het die wond versorg, maar was gister nie beskikbaar om te sê of Chiwawu sy been sal behou nie. Hy verduur erge pyn.
“Dit is vir my erg om hier te lê, want ek is gewoond aan die veld. Ek is baie lief vir die natuur en sal weer teruggaan na my werk toe.”
- Die Burger