Malema kry 2 weke se grasie
2012-02-07 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
JOHANNESBURG. – Mnr. Julius Malema, geskorste ANC-jeugleier, is steeds president van die jeugliga, hoewel sy dae getel is.
Mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het gister hier op ’n nuuskonferensie gesê hoewel Malema se opgeskorte vonnis van 2010 regstegnies reeds Saterdag in werking moes getree het, het die party om “politieke redes” besluit om te wag totdat sy vonnis eers gefinaliseer is.
“Ons het besluit dié kwessie kan nie bestuur word op ’n manier wat desperaat en afgejaag sal lyk nie.
“Ons sal twee weke wag vir die betoë vir strafversagting om afgehandel te word, waarna al die sanksies gelyktydig in werking sal tree.”
Die ANC se nasionale dissiplinêre appèlkomitee (NDAK) het Saterdag aangekondig Malema en sy woordvoerder, mnr. Floyd Shivambu, se appèl teen hul skuldigbevinding verlede jaar het misluk.
Mnr. Cyril Ramaphosa, voorsitter van die komitee, het hul versoek toegestaan om versagtende omstandighede voor die ANC se nasionale tugkomitee (NTK) te bring wat beteken hul straf kan verlig of verswaar word.
Dié proses moet binne 14 dae van die NDAK se bevinding plaasvind, wat beteken Malema het nog tot 18 Februarie om sy tas te pak.
Mantashe het gesê die ANC sal nie inmeng in die jeugliga se proses om ’n opvolger vir Malema te vind nie.
“Die jeugliga is sy eie organisasie en het sy eie grondwet en wat daar sal gebeur, is sy sake.”
Mantashe het ook vrae oor die nasionalisering van myne beantwoord en gesê mense moet ophou om die kwessie te “Malemafiseer”.
“Dit is nie ’n Malema-kwessie nie, dit is ’n ANC-kwessie.
“Die ANC moet baie goed in ag neem voordat hy ’n besluit oor die pad vorentoe neem.
“Mynbou het nie gedoen wat dit vir ons gemeenskappe moes gedoen het nie. Debatvoering is nodig en vrae moet gevra word oor hoe ons mense uit die land se minerale voordeel trek.”
Volgens Mantashe moet nie net winste nie, maar ook die impak op gemeenskappe in ag geneem word wanneer mynbou ter sprake is.
“Ons moet baie dinge uitklaar en buitelandse beleggers moet ons nie afpers en probeer verhoed om die kwessie te ondersoek nie.”
Hy het gesê in ander lande verdeel die regering en maatskappye winste van diamantmyne gelykop. “Hoekom nie ook hier nie?”
- Die Burger