Malema in pekel ná tirades oor boere, Zille
2010-03-11 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapstad
Die ANC se jeugleier, mnr. Julius Malema, word weens beledigende uitsprake en die sing van ’n slagspreuk deur minstens twee sake in die gesig gestaar.
Dit volg nadat Malema die naweek die Wes-Kaapse premier en DA-leier, me. Helen Zille, ’n satanis genoem het, die OD-leier, me. Patricia de Lille, se huwelikslewe beswadder het en “Dubula amaBhunu baya raypha” (”Skiet die Boere, hulle is verkragters”) by ’n studentebyeenkoms gesing het.
Dr. Pieter Mulder, VF+-leier en adjunkminister van landbou, bosbou en visserye, het gister ’n strafregtelike klag by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria ingedien.
Hy het ook ’n klag van haatspraak by die SA Menseregtekommissie ingedien nadat Malema eergister op ’n ANC-byeenkoms by die Universiteit van Johannesburg se Doornfontein-kampus volgens hom geweld aangehits het.
Malema se optrede sal waarskynlik hoog op die agenda wees as pres. Jacob Zuma na verwagting vanaand met prominente Afrikaanse boere, sakelui, sportlui en belangegroepe vergader.
Prof. Piet Strauss, moderator van die NG Kerk, AfriForum, TLU SA en die Springbok-slot Victor Matfield sal met die president vergader. Die meeste van dié groepe is briesend oor Malema en die lied wat hy gesing het.
Intussen het Zille haar regsverteenwoordiger opdrag gegee om Malema te dagvaar nadat hy haar onder meer daarvan beskuldig het dat sy verantwoordelik is vir die sloping van kerke.
“Helen Zille, wat aan satanisme ly, het uit haar pad gegaan om kerke in die Wes-Kaap te sloop. Sy het haar ware kleure gewys... mense daar sal weet hulle het vir ’n monster gestem,” het Malema onder meer getier.
Zille het gister aan Die Burger gesê dit is tyd dat iemand Malema op sy plek sit – en aangesien sy eie party dit nie doen nie, gaan die DA optree.
Malema het die naweek ook onder De Lille ingeklim en gesê: “Die Patricia wat loop en vertel ek skuld die SAID (die Suid-Afrikaanse Inkomstediens) geld, moet haar feite regkry.
“Patricia lyk nie soos ’n getroude vrou nie. Geen normale man kan met Patricia trou nie... ”
- Die Burger