Ma getuig oor dogter se dood
2012-02-07 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – ’n Ma het gister in trane uitgebars toe sy getuig het hoe sy in Junie 2010 op haar dogter se lewelose liggaam op die rusbank van hul huis in Parow afgekom het.
Me. Elizabeth Kroese het die middag haar dogter, me. Nicolene Kroese (20), “op die bank sien lê met merke om haar nek en haar oë wat staan”.
“Ek het aan haar skouer gevat en besef sy is dood. Ek het my handsak laat val en gegil: ‘Ag Here, my kind is dood’.”
Kroese het getuig op die eerste dag waarop getuienis aangehoor is in die verhoor van mnr. Gary Koopman (27) in die Wes-Kaapse hooggeregshof.
Hy staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, verkragting en twee moorde. Dit kom nadat die lyke van Kroese en me. Stefani Gouws (19), twee vriendinne, op 14 Junie 2010 gevind is.
Kroese was die halfsuster van Koopman se meisie, me. Suzette Strydom.
Koopman het gister op die moorde skuld beken, maar op die ander aanklagte skuld ontken. Die staat het nie die skuldbekentenis aanvaar nie en ’n pleit van onskuldig is aangeteken.
Koopman het in ’n verklaring beweer dat hy die dag wou selfmoord pleeg, maar vir Strydom wou “terugkry” omdat sy hul verhouding wou verbreek. Koopman sê in ’n verklaring dat hy nie alleen wou gaan nie, en om haar terug te kry, wou hy haar suster “saamvat.” Die verhoor duur voort.
- Die Burger