VIDEO : Karwag word onnie
2012-02-08 22:27
‘Ons is almal met goeie sakrekenaars toegerus,” sê ’n Kongolese onderwyser van Boksburg. “Ons moet net leer hoe om dit te gebruik.”
Dis presies wat mnr. Fernando Brice Olivier Ogadi (35) deesdae doen. Hy is onlangs as assistent-onderwyser by die Sunward Park High School aangestel nadat die skoolhoof ’n insetsel oor hom in die kykNET-program Kwêla gesien het.
Ogadi, ’n gekwalifiseerde onderwyser, het in 2004 weens politieke onstabiliteit van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) na Suid-Afrika gevlug en as karwag by die Zomerlust Spar in die Paarl begin werk.
Dit het hom egter nie gekeer om sy passie uit te leef nie. Ogadi het op ’n ou swartbord op die parkeerterrein somme gemaak en dit luidrugtig verduidelik aan enigeen wat belangstel.
“As iemand so passievol oor iets is dat hy bereid is om sy land agter te laat, verdien hy om gehelp te word,” het me. Ansie Peens, skoolhoof, gesê.
“Nie almal het die vermoë om wiskunde te verduidelik nie, maar sy manier is ietwat anders.”
Vir die 14-jarige Busisiwe Thango is dit ’n plesier om by Ogadi klas te kry. “As hy verduidelik, verstaan ek.”
Ogadi het Maandag as assistent-onderwyser by Sunward Park begin.
“Hy praat nog met ’n baie dik aksent, maar sodra sy Engels verbeter, sal ons hom alleen laat klas gee,” het Peens gesê.
Vir eers woon en eet hy in die skool se koshuis, waar hy smiddae en naweke ekstra klasse gee.
“Die kinders is baie opgewonde om by hom klas te kry en ek kan sien die ekstra klasse maak ’n verskil,” het me. Karen Hubbard, wiskunde-onderwyser vir gr. 9, gesê.
Ogadi hoop om einde vanjaar vir sy familie in die DRK te gaan kuier. Hy het hulle sewe jaar laas gesien.
“My ma is baie trots op my,” het hy gesê. “Ek kan haar darem sê ek het werk gekry.”