Julius Malema ‘is ’n bespotting’
2010-03-15 02:11
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Durban – Dr. Farouk Meer, broer van die struggle-ikoon prof. Fatima Meer, het op haar staatsbegrafnis eergister die ANC en veral mnr. Julius Malema skerp gekritiseer.
Meer het Malema, leier van die ANC-jeugliga, as ’n “bespotting” van die Suid-Afrikaanse struggle se nalatenskap beskryf.
Die begrafnis is by die Durbanse uitstallingsentrum gehou nadat Meer die vorige dag in die St. Augustine-hospitaal in dié stad dood is ná ’n lang stryd teen beroerte.
Onder die begrafnisgangers was me. Winnie Madikizela-Mandela, ’n jare lange vriendin van Meer, en dr. Mangosuthu Buthelezi, IVP-leier.
Meer het tussen sy trane deur gesê hoewel daar ná 1994 positiewe veranderings in die lewe van die onderdrukte massas was, is dit betreurenswaardig dat korrupsie floreer.
“Ons moet korrupsie uitroei en politici se salarisse verminder. Geld wat aan geskorste staatsamptenare betaal word, is ’n obseniteit.
“Ek kan dit nie verstaan nie en sy (Fatima Meer) kon ook nie.”
Volgens hom was sy suster oor die bogenoemde kwessies bekommerd terwyl sy oor die struggle nagedink het.
In ’n duidelike verwysing na Malema het Meer gesê daar is ’n jong man wat voorgee om die jeug te lei, wat ’n bespotting is vir die nalatenskap van mnre. Oliver Tambo, Moses Mabhida en ander struggle-ikone.
Madikizela-Mandela het oor haar laaste besoek aan Meer op haar siekbed verlede week gesê:
“Ondanks die pyn waarin sy was, het sy vir oulaas geglimlag en gefluister: ‘Waar is Nelson?’
“Sy het toe haar oë toegemaak en dít was die laaste keer wat ek haar lewend gesien het.”
Die diens, deur honderde bygewoon, is deur verskeie godsdienstige leiers gelei hoewel Meer ’n Moslem was.
- Die Burger