Hotelgeld ‘verlore’ vir beleggers
2011-11-01 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Kaapstad
Duisende beleggers wat van hul laaste bietjie aftreegeld tot bedrae van R2,5 miljoen in die Realcor-groep se Radisson Blu-hotel in Bloubergstrand belê het, gaan nie weer ’n sent van dié geld sien nie.
Dié ontstellende nuus vir die 3348 beleggers wat meer as R650miljoen belê het in die droomplan om geld uit ’n spoghotel te maak, volg op die likwidasie van drie maatskappye wat aan die bankrot Realcor-eiendomsontwikkelaars verwant is.
Mnr. Rael Gootkin van die regsfirma Webber Wentzel, regsverteenwoordiger van die Reserwebank, het gister die harde werklikheid verduidelik van gewone men- se, onder wie talle bejaardes, wat nie weer ’n sent van dié spaar- en leefgeld sal sien nie.
Gootkin het boonop gewaarsku dat beleggers aan wie daar vroeër sogenaamde rente uitbetaal is dié geld sal moet terugbetaal. Dit sal gedoen moet word indien dit blyk dat die rente nie ware inkomste was nie, maar “soos in ’n piramideskema” met ander beleggers se geld betaal is.
Sodra die meester van die Wes-Kaapse hooggeregshof vandeesweek die likwidateurs vir die drie voorlopig gelikwideerde Realcor-maatskappye aangestel het, gaan bepaal word waarheen beleggers se geld werklik is.
“Die optrede van die direkteure, asook die talle makelaars wat beleggers oortuig het om hul geld in die skema te belê, gaan ondersoek word.”
Gootkin het gesê makelaars het tot 14% van die beleggings as kommissie gekry. “Indien ’n belegger R750000 belê het, het R105000 daarvan as kommissie na die makelaar gegaan.”
Makelaars het mense van dwarsoor die land – van so ver as Naboomspruit in die noorde, maar veral uit die noordelike voorstede van Kaapstad en omliggende Wes-Kaapse dorpe – gelok om in die hotelskema te belê.
“Daar moet nou bepaal word waarheen die beleggers se geld is. Indien dit onderling tussen Realcor-maatskappye geleen is en daar geen bates is om hiervoor te wys nie, sal beleggers niks geld terugkry nie,” het Gootkin gewaarsku.
As deel van die likwidasieproses sal ’n volgende stap wees om die halfgeboude hotel, asook ’n gastehuis en winkelsentrum op Grabouw, te verkoop.
Dié geld sal ten eerste gebruik word om gewaarborgde skuldeisers, soos banke, te betaal.
In albei die gevalle van die maatskappye Africa’s Best (ontwikkelaar en eienaar van die Marsh Rose-winkelsentrum op Grabouw) en Midnight Storm (eienaar van die erf waarop die hotel in Bloubergstrand gebou is) word daar miljoene rande aan banke geskuld. Africa’s Best skuld R26miljoen aan Standard Bank en Midnights Storm skuld R52miljoen aan Wesbank.
Miljoene rande agterstallige belastinggeld moet ook eers gedelg word.
Die uitstaande skuld aan voormalige werknemers, asook ondernemings wat dienste vir die bou van die hotel gelewer het, sal ook eers uitbetaal word.
Indien daar hierna ’n enkele sent oorbly, kan beleggers daarop probeer aanspraak maak.
- Die Burger