Honde-held vang tier
2010-07-29 01:34
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Groblersdal
Panjo, die losloper-tier, is weer op hok danksy ’n uitgebreide soektog en ’n Weimaraner-hond wat spesiaal opgelei is om roofdiere uit te snuffel.
Nadat hy gewaar is, het die groot streepkat weer terug in die bosse gehardloop, maar gister kort ná 20:00 was sy halsband om sy nek nadat mnr. Goosey Fernandes, “sy pa”, hom met ’n stuk vleis gelok het.
’n Tranerige Fernandes het dankie gesê vir die hond, Zingela, en almal wat aan die soektog gehelp het, veral mnr. Johnson Mhlanga, ’n Shangaan-spoorsnyer, glo die beste in Afrika.
“Die hond is ’n held.”
Fernandes se vrou, Rose, het gesê: “Ek is baie bly ons het hom uiteindelik gekry. Ons wil vir die hele Suid-Afrika dankie sê vir al die hulp.”
Panjo is in dieselfde bakkie gelaai waaruit hy Maandagaand ontsnap het toe die Fernandes-egpaar met hom van hul wildplaas by Groblersdal na hul kleinhoewe by Endicott, Springs, gery het.
Die soektog is gister op grond van ’n nuwe wenk na gebied by die R25 naby die Verena-plakkerskamp, sowat 40 km van Bronkhorstspruit, verskuif.
Mnr. Rikus Jansen (23) het gesê hy het die tier net ná middernag daar gesien terwyl hy op pad huis toe was.
“Ek het eers gedink dis ’n kalf, want ’n tier is die laaste ding wat ek verwag het. Dit het nie gelyk of hy beseer is nie en hy het kalm oor die pad gestap. Ons het so ’n paar minute na mekaar gestaar voor hy die veld in verdwyn het.”
Jansen het dit by die Verena-polisiekantoor aangemeld. “Ek was nog vanoggend besig om na Panjo se foto’s in Beeld, susterkoerant van Die Burger, te kyk toe bel mnr. Fernandes my.”
Mnr. Mark Tennant van Animal Planet en sy medespoorsnyer, mnr. Ian Johnson, het onmiddellik op die plek begin soek waar Jansen vir Panjo gesien het. Omstreeks 16:00 het hulle vars spore in ’n beboste gebied gevind. Mhlanga en mnr. Conrad de Rosner en sy hond, Zingela, van die Sabi Sands-wildreservaat se hulp is ingeroep.
Intussen het ’n Altech Netstar-helikopter en ’n Cessna-vliegtuig met ’n infrarooikamera van Rotorway International tot sononder nog oor die gebied gevlieg.
Volgens De Rosner is Zingela opgelei om gewonde roofdiere uit te snuffel. “Ons is deel van die teenstropingseenheid van die Krugerwildtuin. Zingela kan spore volg en reuk optel.”
Die Fernandese is oorval deur mense van tot so ver as Brittanje wat hulp aanbied. Mev. Fernandes het selfs ’n SMS van ’n siener ontvang dat Panjo sy linkerskouer met die val uit die bakkie beseer het en dat hy in ’n gebied met “groot klippe en geel gras skuil”.
Daar was vele vals alarms en mense wat munt uit die situasie probeer slaan het.
Mnr. Fernandes het gesê hy kry oproepe van mense wat vergoeding van hom eis omdat die tier glo hul diere gevreet het.
“Een ou het gesê: ‘Jou kat het pas drie van my beeste doodgemaak. Ek het hom en ek wil R10 000 hê’.
“Ek het vir hom gesê ‘ek sal jou R20 000 gee, hou hom net daar,’ maar toe kon ek hom nie weer in die hande kry nie,” het Fernandes gesê.
Intussen het mnr. Dries Pienaar van die Mpumalanga-parke-en-toerismeraad gesê hulle kan geen rekord vind van Fernandes se aanspraak dat hy “al die papierwerk” het om die tier in die provinsie te hê nie. Dit beteken Panjo kan gekonfiskeer word en ’n hofsaak kan volg.
Fernandes het dit ontken. “Ek het permitte vir my tier (by die) Mpumalanga-parkeraad. Ek het vier tiers, wat nog te sê een.
“Hulle sal my kat nooit van my af wegvat nie.”
- Die Burger