Eikestad kan gou gratis internet kry
2012-02-24 10:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
STELLENBOSCH. – Gratis toegang tot Wi-Fi in die hele Stellenbosse gebied pas goed in by ’n plan van die Wes-Kaapse premier om armoede in die provinsie hok te slaan.
Me. Helen Zille het verlede week in haar openingsrede in die provinsiale parlement gesê die verbetering van internet-toegang en infrastruktuurprojekte is twee van die planne om armoede te verlig.
Indien die inisiatief van die Stellenbosch-munisipaliteit, MXit en die Universiteit Stellenbosch om dié breëband-toegang vir almal in dié gebied gratis moontlik te maak, sal dit ekonomiese groei vir Stellenbosch beteken, het mnr. Pieter Venter, portefeuljevoorsitter vir finansies van die munisipaliteit, gister gesê.
Gesprekke om Stellenbosch in ’n Wi-Fi-dorp te omskep, kom al ’n geruime tyd aan, het Venter bygevoeg. Die datakoste was egter tot dusver te duur vir die munisipaliteit.
“Wat dit nou moontlik maak, is dat MXit die datakoste sal dek. Dié donasie beloop miljoene rande per maand.”
Vir eers sal ’n proeftydperk in slegs die kerndeel van die dorp (Kerk-, Dorp-, Plein- en Birdstraat ingesluit) gehou word. Indien die raad die voorstel op 28 Februarie aanvaar, sal die proeftydperk binne dae daarna begin.
“Ons mikpunt is om die hele munisipale gebied – Stellenbosch, Pniël, Khayamandi, Jamestown en Franschhoek – voor Junie gratis toegang te bied. Indien dit nie voor daardie tyd gebeur nie, sal dit voor Desember wees,” het Venter gesê.
Plase sal egter nie hiervan gebruik kan maak nie.
Gebruikers sal in staat wees om onder meer op die internet werk te soek, produkte op eBay te koop en te verkoop, te Skype of banksake te doen. Gebruikers sal ook nie daarvoor hoef te registreer nie. Musiek of rolprente sal egter nie afgelaai kan word nie, omdat dit tot misbruik kan lei.
“Stellenbosch sal bekend staan as die dorp wat internet-vriendelik is. Nie net sal dit meer besoekers hierheen lok nie, maar dit sal ook talent hier vestig. Dis natuurlik ook tot ekonomiese voordeel vir die dorp en die eerste dorp in Afrika om dit aan te bied,” het Venter gesê.