Eetstaking teen Chappies-gebou
2012-02-07 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
KAAPSTAD. – Sy gaan nie haar eetstaking beëindig voordat die Wes-Kaapse regering sy planne vir die omstrede Chapmanspiek-tolplaza buite Houtbaai laat vaar nie.
Só het me. Bronwen Lankers-Byrne (59), ’n inwoner van Houtbaai wat sedert Sondag om 07:00 met ’n eetstaking naby die konstruksieterrein begin het, gister aan Die Burger gesê.
Lankers-Byrne wat onder ’n boompie skuiling teen die warm son gesoek het, het gesê sy hoef nie geld te hê om ’n verskil te maak nie.
Lankers-Byrne, wat ook ’n lid van die Civil Rights Action Group (Crag) is, het verlede maand deelgeneem aan ’n protesoptog waar meer as 2000 mense hul teenkanting teen die konstruksie van ’n tolplaza en kantoorgebou op Chapmanspiek uitgespreek het.
“Ons het gedink die Wes-Kaapse regering sal na ons pleidooi luister, maar hulle gaan steeds voort met die R54 miljoen-projek. En ons as belastingbetalers sal hiervoor moet opdok.”
Sy het sedert gister 40 meter van haar eerste sitplek geskuif vanweë die konstruksie wat nog aan die gang is en sal nie verbaas wees as sy môre verder verskuif word nie.
Sy beplan om net van 07:00 tot 19:00 op Chapmanspiek te bly en gaan dan weer huis toe. “Dit is ’n bietjie gevaarlik in die nag hier. Maar ek belowe ek eet niks by die huis nie. Ek drink net water.”
Sy het Sondag me. Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, voorgekeer toe sy per fiets oor Chapmanspiek gery het. “Sy het gesê sy sal met haar mense praat.”
Sy stap ook elke dag 8km van haar huis tot waar sy sit, en weer terug.
Buiten die hitte ervaar sy ook erge hoofpyne, maar selfs dít gaan haar nie keer voordat die owerhede hul planne laat vaar nie. “Ek is nie teen die ontwikkeling nie, net teen die manier hoe dit gedoen word.”
- Die Burger