ET se werkers ‘bly in ’n stal’
2012-02-01 03:29
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
VENTERSDORP. – “Ek voel net ek wil nou die waarheid praat. Ek voel jammer vir my ma oor die ding.”
Dít is wat mnr. Eugène Terre’Blanche se 17-jarige vermeende moordenaar glo gesê het toe hy die dag ná die moord in April 2010 uitwysings gedoen het.
Lt.kol. Frans Jacobs van die eenheid teen ernstige misdaad in Klerksdorp wat die uitwysings behartig het, het gister hieroor getuig in ’n verhoor binne die moordverhoor. Die minderjarige se regspan voer aan sy regte is geskend en sy uitwysings en erkennings moet daarom nie toegelaat word nie.
Jacobs het getuig ’n tolk en die minderjarige se ma was teenwoordig tydens die uitwysings. Al sy regte is aan hom voorgehou, hy het aangedui hy verstaan alles en dat hy verkies om nie ’n prokureur teenwoordig te hê nie, al sou dit gratis wees.
Die hof het gister ook gehoor Terre’Blanche se plaaswerkers het glo in haglike omstandighede in ’n plaasstal gewoon en is minder as die wetlik voorgeskrewe minimum lone betaal.
Me. Martie Terre’Blanche, die AWB-leier se weduwee, het toegegee toestande daar was haglik, maar dat hulle dit self moes skoon hou. “Dis hul eie sakke en bekers wat daar lê. Dis onregverdig om van enigiemand anders te verwag om hul leë bottels en rommel op te ruim.”
Oor die lone het me. Terre’Blanche gesê een van die beskuldigdes, mnr. Chris Mahlangu (31), het vir die AWB-leier vir werk gevra omdat hy desperaat was vir kos en geld. “Hy was bereid om vir die loon te werk.”
Jong seuns het haar man glo op die dorp voorgekeer en gesmeek om vee op te pas omdat hulle nie kos het nie.
“Eugène het dan meestal self die vee opgepas terwyl hulle in die vlei gespeel het.”
Adv. Norman Arendse SC wat vir die minderjarige verskyn, wou by me. Terre’Blanche weet hoekom die minderjarige se betaling formeel op ’n kaart aangedui is. “Hulle (die jonges) het net sporadies gewerk,” was haar antwoord.
Adv. Khomotso Tlouane, vir Mahlangu, het aangevoer sy kliënt se salaris was “altyd te min” omdat geld afgetrek is vir kruidenierskuld by ’n plaaslike winkel.
“Eugène wou hulle net help,” het me. Terre’Blanche getuig.
Sy het betaalkaarte in die hof gehad waarop nougeset boek gehou is van werkers se skuld en salarisse. “As die skuld te veel was, het Eugène gesê ek moet die werkers maar ’n ekstra R50 of R100 gee omdat hulle mooi gewerk het.”
- Die Burger